Motordief (19) kry vyf jaar

’N 19-JARIGE inwoner van Oudtshoorn, Dillen Nimmerhout, is op 3 Mei in die Oudtshoorn Landdroshof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan motordiefstal.

Volgens inligting verskaf deur die Oudtshoorn Voertuigmisdaadondersoekeenheid is die motor, ’n Daewoo Lanos, die nag van 2/3 Augustus 2017 op die Checkers-parkeerterrein gesteel.

Volgens die klagstaat is die voertuig die aand daar geparkeer toe die klaer ’n plaaslike kuierplek besoek het. Hy het om 03:00 die diefstal ontdek.

Die voertuig is deur die Voertuigmisdaadondersoekeenheid in Smartie Town gevind.

Na verdere ondersoek is Nimmerhout op 23 Augustus in hegtenis geneem.

Nimmerhout is deur die hof onbevoeg ver klaar om ’n vuurwapen te besit.

Die ondersoekbeampte in die saak was ao Martin Cooper.