Bo, onder en heelonder is die trotse mammas met hul wenbabas, Kira George, Reeve Rhodes en regs klein Jeanette Titus.


DAAR was ’n welkome see van gesiggies by die Bridgton Kliniek in Oudtshoorn se langverwagte babakompetisie op Vrydag 25 Mei, sê Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte van die Departement Gesondheid, Eden en Sentraal Karoo Distrikte.
Volgens Ferreira het 25 kinders tussen een maand en twee jaar vir die kompetisie ingeskryf.
“Die kompetisie is gehou as deel van die First Thousand Days, ’n inisiatief van die Wes-Kaapse Regering, wat poog om die gemeenskap bewus te maak van die belangrikheid van die eerste 1 000 dae van ’n baba se lewe. Dit strek vanaf die begin van jou swangerskap tot die tweede lewensjaar van die kind.”
As deel van die kompetisieprogram is ouers ingelig oor die belangrikheid van borsvoeding en stimulering van die kind gedurende dié belangrike tydperk.
“Kinders kan vergelyk word met ’n klein blommetjie.
Ons moet daardie blommetjie gereeld water, aandag en liefde gee om te blom. Dit is lekker om pappas ook hier te sien met hul kinders, aangesien hulle, waar moontlik, net so betrokke soos die ma moet wees by hul kinders. “Vaders moet net soos moeders van kleins af vir hul kinders lees, met hulle speel, en hulle baie liefde en aandag gee.
Dit alles dra by tot die groei en ontwikkeling van ’n gelukkige, gesonde kind,” het Elana Marais, ’n dieetkundige aan ouers gesê.
Beoordelaars het die moeilike taak gehad om drie wenners in die verskillende afdelings te kies.
Elke afdeling het sy eie kriteria gehad. Dit het die ma se kennis oor korrekte voeding, die suikersout-oplossing en die ontwikkeling van die kind ingesluit. Die kinders moes ook sekere goed kon doen vir hul ouderdom, soos ratels vashou, reageer
op klank, ensovoorts.
Die wenners in die afdeling 0 tot 6 maande was Kira George, met Adele Frans tweede en Schanica Michaels derde. In die afdeling 6 tot 12 maande was Reeve Rhodes die wenner, met Melissa Carelse tweede en Deago Malgas derde. In die
afdeling 12 tot 24 maand was Jeanette Titus die wenner met Tameeka Botha tweede en Waynique Morris derde.
Ferreira het haar dank uitgespreek teenoor almal wat die moontlik gemaak het, die personeel, borge en die Bridgton-gemeenskap wat aktief betrokke is by hul kliniek en ’n beter toekoms vir hul kinders wil skep deur gebruik te maak van gesondheidsaktiwiteite soos die kompetisie.