Babadief skuldig

Deur Garnett Wicomb
DIE vrou wat ’n baba by die Toe­komsrus Kliniek op Oudtshoorn ge­steel het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof aan menseroof skuldig bevind. Die saak is vir vonnisoplegging tot volgende maand uitgestel.
Sintie September (22) het skuldig gepleit op die aanklag dat sy op 27 Oktober verlede jaar die seweweke-oue Lashay Billy vanaf die kliniek na haar woning geneem het.

Sy het met haar borgaansoek erken dat sy ’n fout gemaak het.
Die kind het verdwyn nadat haar ma haar in die sorg van ’n vriendin gelaat het, wat op haar beurt die kind ’n rukkie later vir September gegee het om na te kyk.

Sy is dieselfde aand in ’n huis in Bongolethu in hegtenis geneem.
Streeklanddros Daniel Boks het die vonnisoplegging vir die proefbe­ampte- en korrektiewe toesigverslae tot 20 Maart uitgestel en September se borgtog van R500 verleng.