Impulse Karo hier met ’n goeie doel

Impulse Karo se span is van links Willem Krige (fasiliteerder), Gaby Fourie (fasiliteerder) en Marius Andrews (program- en spanleier). Afwesig: Nina Engelbrecht (admin en avontuurgids). Foto verskaf

Impulse Karo se span is van links Willem Krige (fasiliteerder), Gaby Fourie (fasiliteerder) en Marius Andrews (program- en spanleier). Afwesig: Nina Engelbrecht (admin en avontuurgids). Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
’N INISIATIEF wat fokus op sen­dingwerk, lewensvaardighede, avontuur en dissipelskap wil graag ’n bydrae en verskil in die hart van Oudtshoorn maak.

Die program- en spanleier van Impulse Karo se Jaar van Transfor­masie­program sê hulle het juis na die volstruisdorp gekom met ’n spesifieke doel. “Ons het gevoel dat ons na Oudtshoorn móés kom met dié program. Ons wil deur ons sen­ding­werk die harte van minderbevoorregte mense raak,” sê Marius Andrews.

“Ons is ’n Christelike geloof-ge­baseerde program, onder die vaandel van Operasie Mobilisasie (OM) Suid-Afrika. Ons beplan om plaaslike uit­reike te doen, soos sopkombuise vir plaasarbeiders en straatkinders. Ons wil net by die regte instansies hoor presies hoe en waar ons kan help. Ons wil veral fokus op straatkinders.”

Die program is vyf jaar gelede ont­wikkel en skop in April in Oudts­hoorn af. Dit fokus op emosionele, spirituele en fisieke groei met die doel om ’n jong volwassene voor te berei vir die lewe daarbuite.
Studente tussen 18 tot 22 ontvang semi-formele klasopleiding, buite­lugervarings, lewensvaardigheidslesse en gesimuleerde situasies.

“Ons doel is om jong volwassenes te ontwikkel wat hul Godgegewe doel, hulself en hul bydrae tot die gemeenskappe waarin hulle lewe, verstaan.”

Andrews, ’n geregistreerde be­roeps­voorligtingsberader, vertel dat groepe klein gehou word sodat ’n familieverhouding geskep kan word.

“Ons wil nie die stil outjie in die groep verloor nie. Ons wil graag hê dat almal tuis voel – ons spandeer immers agt maande saam! Ons plaas klem daarop om persoonlike aandag aan elke individu te gee om bete­kenisvolle verhoudinge te bou.”

Die groep beplan om later vanjaar sendingwerk in Botswana te gaan doen. Om deel te word van die program, kontak Andrews by 082 406 4635 / marius@impulsegapyear.com.