Deur Liesel le Roux
Die Desember-skoolvakansie het gister amptelik aangebreek, en daarmee ook daardie tyd van die jaar wat mense dink aan vakansie elders, Kersfees en Nuwejaar en besoeke aan familie en vriende wat op ander plekke woon.
Dit is die begin van sowat ’n maand waartydens baie van ons op die pad gaan wees en waartydens party van ons baie ver gaan ry.
Ons versoek aan almal wat op die pad gaan wees is: Ry versigtig en kom veilig by jou bestemming!
Want anders stel jy nie net jou eie lewe in gevaar nie, maar waarskynlik ook die lewens van familielede en ook die lewens van baie ander onskuldige mense.
Moenie drink en bestuur nie.
Moenie teen sperstrepe verbyjaag nie.
Hou by die spoedperk.
Gehoorsaam verkeersligte, stoptekens en ander padtekens – dit is daar om almal te help om die pad saam veilig te gebruik.
Moenie bestuur as jy vaak is nie.
Kyk uit vir voetgangers, fiets- en motorfietsryers
Maak seker jou voertuig is padwaardig.
En ja, doen hierdie dinge ook op jou eie dorp op ’n Saterdagaand.