
Deur Liesel le Roux
Twee weke gelede het die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit kennisgewings in die plaaslike media en op hul webtuiste geplaas waarin inwoners ingelig word oor voorlopige waardasielyste van eiendom in die munisipale gebied vir die tydperk 2017 tot 2022.
In die kennisgewings word inwo-ners genooi om na die waardasielyste vir die tydperk van 2017-2022 te gaan kyk voor 25 April 2017. Elke eienaar van vaste eiendom het voorts die geleentheid om voor dié datum beswaar aan te teken op ’n voorgeskrewe beswaarvorm.
Die Hoorn wil inwoners aanmoedig om hul op hoogte te stel van wat die eiendomswaardasie vir hul eiendom(me) is deur self na die waardasielyste te kyk! Dit is beskikbaar by die munisipale kantore in Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp en ook op die webblad van die munisipaliteit by www.oudtshoorn.gov.za. (Kliek op documents; kliek dan op show all onderaan die blad; kliek op valuations onderaan die blad en kyk onder General Valuations / Algemene Waardasie 2016. U kan die betrokke dokument aflaai of vra dat dit ge-e-pos word. )
Die Hoorn het navrae oor die waardasielyste ontvang nadat daar die week klaarblyklik op sosiale media beweer is dat die waardasie van eiendom met 50% gaan verhoog. Dit is volgens ’n vinnige steekproef van twee eiendomme op die dorp wat met onderskeidelik 7 % en 13% verhoog, nie korrek nie.
Neem in ag dat moontlike aanbouings aan eiendom wat nie met die vorige waardasie in ag geneem is nie, ook ’n invloed op die nuwe waardasie kan hê.
Lees dus kennisgewings. Bly op hoogte. Moenie saampraat en -kla sonder die nodige inligting nie.
En as jy vrae het oor die waardasiesyfers van jou eiendom en dit bevraagteken, teken beswaar aan.