Besoekers besing Klassique

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

“Ongelooflik. Soveel talent, regtig deur en deur die moeite werd om by te woon.”
“Fantasties. Ons land het onge­looflike talent. Sien al klaar uit na volgende jaar se vier dae!”
“Wonderlike musiek…fantastiese keuse van program…begaafde kunstenaars…”
“The only chance for folk in Eden to see real culture!”

So skryf Nina Engelbrecht, Mariaan Basson, Santa van Staden en Peter Gibbs op die Facebookblad van Klein Karoo Klassique – Oudtshoorn se klassieke musiekfees wat die afgelope naweek op Oudtshoorn aangebied is.

Die kombinasie van klassieke mu­siek en die skoonheid van ’n plattelandse dorp in die Klein Karoo bekoor duidelik feesgangers van elders. Dit was duidelik uit gesprekke met besoekers van Pretoria tot Groot Brak­rivier tot Kaapstad. Dit was ook dui­delik uit die geesdrif van gehore wat die een na die ander konsert staande toegejuig het en na die tyd nie uitgepraat kon raak daaroor nie.

Een van die groot suksesse van vanjaar se fees was die kuierplek wat agter die Moederkerk ingerig is en waar feesgangers en kunstenaars tus­sen vertonings kon asemskep en ge­sels, en teen ’n billike prys kon eet en kuier. Daar was genoeg onderdak-ruimte vir die wat wou skuiling soek en genoeg buitesitplek vir diegene wat die Klein Karoo se heilsame Augustus-sonskyn wou geniet. Boonop is plaaslike verskaffers daar die geleent­heid gebied om te sorg vir die eet- en drinkgoed.

Hierdie is ’n baie goeie inisiatief wat daartoe bygedra het om ’n feesatmosfeer te skep.
Die aandkonserte met jong kunstenaars in Die Windpomp op dieselfde terrein was ook ’n blink gedagte – net jammer van die plasing van die skerp ligte (wat die naam Die Windpomp gespel het) agter die kunstenaars en dus reg in die gehoor se oë.

Die Klein Karoo Klassique bly na nege jaar nog ’n klein fees. Daar is dorpenaars wat glo dit het potensiaal om veel groter te word, maar dat die fees meer aggressief bemark moet word.
Hoe dit ook al sy – hierdie is ’n fees wat Kunste Onbeperk en Oudtshoorn moet koester en oppas en probeer uitbou.

Die terugvoer van feesgangers was in ons ervaring eenparig positief – iets wat mens nie sommer kry nie. Mag dié fees van krag tot krag groei.

Kuier by Klein Karoo Klassique 2017. ’n Kuierplek wat agter die NG Moederkerk (waarbinne die konserte plaasgevind het) ingerig is, het bygedra tot ’n gesellige atmosfeer by vanjaar se negende klassieke musiekfees op Oudtshoorn.  Foto: Signature Divine op Facebook

Kuier by Klein Karoo Klassique 2017. ’n Kuierplek wat agter die NG Moederkerk (waarbinne die konserte plaasgevind het) ingerig is, het bygedra tot ’n gesellige atmosfeer by vanjaar se negende klassieke musiekfees op Oudtshoorn. Foto: Signature Divine op Facebook