Jag – wenke om veilig te wees

Foto: Jong HJ Kruger by sy eerste springbok, hy is volgens tradisie gedoop. Foto verskaf

Daar is baie dinge om te onthou wanneer jy gaan jag – dit is nie net ’n geval van mik en skiet nie!

Heel eerste moet jy ’n jaggroep bymekaarmaak.

Dit kan bestaan uit vriende en kennisse – julle sal immers ’n paar dae saam deurbring.

Dan moet jy by ’n wildboer uitvind wat hy bied om te jag en die pryse daarvan – wat is die pryse van die onderskeie wildsoorte?

Betaal jy per kilogram, vir die hele dier of net vir die afgeslagte karkas?

Jy moet ook vasstel of die boer slaggeriewe het.

So nie, moet jy self ’n plan maak.

Die boer sal normaalweg aandui of jy net manlike of vroulike diere of albei mag jag, en hoeveel diere elke persoon mag jag.

Verder is daar ook dag- en nagfooie om in gedagte te hou. Dagfooie sluit in brandstof en die betaling van die helpers (hulle dra die gekweste diere aan en doen die slagwerk). Nagfooie sluit verblyf in – wat deur die boer verskaf word en wat die groep jagters saam betaal.

’n Belangrike punt om te onthou is om seker te maak dat jy jou vuurwapen en jaglisensie het – elke gebied of provinsie het sy eie jaglisensie.

Sodra al daardie fynere besonderhede afgehandel is, is daar ’n paar dinge wat die oggend voordat jy in die veld uitgaan, gedoen moet word.

Eerstens, stel jou vuurwapen in. Daar was al baie gevalle waar iemand se teleskoop nie reg gestel was nie en ’n gemerkte dier raakgeskiet is.

Gemerkte of “tagged” diere word gebruik om te teel en is baie waardevol vir die boer – maak se­ker jy kwes nie per ongeluk een van dié diere nie!

Die boer sal dan die groep een vir een op ’n sekere plek aflaai en presies aandui in watter rigting (skootvlak) geskiet mag word! Elke jagter se beweging word tot ’n sekere gebied beperk om te verseker dat niemand in iemand anders se kruisvuur beland en raakgeskiet word nie. Almal moet te alle tye weet waar hul medejagters is.

Situasies waar geskille ontstaan oor watter jagter ’n spesifieke bok geskiet het, moet vermy word.
As ’n bok gekwes word, stel die boer onmiddellik daarvan in kennis. Hy moet noukeurig ingelig word oor watter diere waar gekwes is.

Daar mag nie in die nag gejag word nie – die gebruik van kuns-matige lig word verbied.
As jou diere afgeslag is en jy keer huiswaarts, onthou voordat jy die plaas verlaat om ’n brief van die boer te kry wat stipuleer dat jy die vleis mag vervoer.

Anders kan jy van wilddiefstal verdink word!

Vir die nuwelinge, hier is iets om na uit te sien: Daar is ’n ­ritueel wat gevolg moet word wanneer jy vir die eerste keer gaan jag en iets raakskiet. Die inisiasie werk so: jy moet ’n stuk van die rou lewer van die dier wat jy geskiet het eet – daar is ook minder aangename dinge wat daarmee gepaard kan gaan, maar die standaard is lewer – en dan word jou gesig met die dier se bloed besmeer.

En onthou: geen sterk drank word op die jagveld toegelaat nie.