Die gesondheidstrein is vanaf Maandag op die Oudtshoorn Stasie met mediese dienste vir almal. Foto verskaf
Phelophepa-trein vanaf Maandag op Oudtshoorn
DIE Transnet-Phelophepa-gesondheidstrein sal vanaf volgende Maandag (28 Augustus) tot Vrydag (1 September) en weer vanaf 4 tot 8 September die Oudtshoorn Stasie besoek.
Dié trein – die wêreld se eerste primêre gesondheidshospitaal op wiele – bring jaarliks gesondheid en hoop na duisende landelike Suid-Afrikaners.
In Sotho en Tswana beteken die naam Phelophela “goeie, skoon gesondheid” en hierdie trein met 19 waens en 22 gekontrakteerde personeellede bied gesondheidsorg met die nuutste mediese toerusting aan boord.
Hulle word ondersteun deur 39 finale jaar-studente van gesondheidsfakulteite van Suid-Afrikaanse universiteite en 13 veiligheidsbeamptes.
Die trein bied:
• ’n oogkliniek vir gratis oogtoetse, brille en oogdruppels;
• ’n tandheelkundekliniek vir gratis ondersoeke en inligting asook die trek, vul en skoonmaak van tande;
• ’n beradingskliniek wat individue en groepe bystaan om stres en emosionele probleme te hanteer;
• ’n gesondheidskliniek waar gratis kanker- en diabetesafdeling wat vir diabetes toets en ook papsmere, prostaat-en borstoetse doen.
Met hul aankoms by die trein sal elke pasiënt geregistreer en daarna geasseseer word en dan na die toepaslike kliniek verwys word.
Die dienste is alles gratis of die koste daarvan is minimaal. (Op ’n advertensie onderaan dié berig is ’n uiteensetting van dienste en die koste van dienste op die trein.)
Inwoners wat oor kliniekkaarte beskik, word versoek om hul kaarte saam te neem.
Laurika du Bois, projekbestuurder van die Phelophepa-gesondheidstrein, het egter die week beklemtoon dat ’n kliniekkaart nie ’n vereiste is om die trein te besoek nie en dat alle inwoners welkom is om die trein se dienste te gebruik.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het die Phelophepa-gesondheidstrein as ’n “baken van hoop” bestempel.
“Oudtshoorn se munisipale raad ondersteun die projek ten volle en wil graag ’n goeie verhouding opbou met die projek.
“Vennootskappe is noodsaaklik om seker te maak dat elke inwoner toegang het tot kwaliteit gesondheidsdienste.”
Sylvester het inwoners aangemoedig om van die trein se dienste gebruik te maak.
“Ons nooi alle inwoners van die Groter Oudtshoorn uit om die geleentheid te gebruik om toegang te kry tot gratis of andersins baie bekostigbare gesondheidsdienste.”
• Die Transnet-Phelophepa-gesondheidstrein besoek jaarliks vier provinsies en stop by ’n totaal van 35 plekke.