Doula het roeping om te dien

’n Oud-onderwyseres van Oudts­hoorn het, nadat sy geboorte geskenk het aan ’n babadogtertjie, besef sy wil graag ander vroue bystaan tydens die geboorteproses, wat ’n baie emosio­nele ervaring is. Denielle Landman het toe besluit om haarself as doula te bekwaam.

“Doula” is die Griekse woord vir “woman’s servant”. Sy word opgelei om ’n aanvullende rol as geboorte-ondersteuner te vervul vir die ma, lewensmaat en nabye familie. Haar dienste sluit die fisieke en emosionele ondersteuning voor, tydens en ná geboorte in. Hiervoor moes sy baie kennis inwin, aangesien ’n vrou se liggaam baie tydens swangerskap en geboorte verander.

Om ’n doula te kon word, moes Denielle ’n kursus van ses maande voltooi by Wombs (Women Offering Mothers Birth Support), ’n geregistreerde nie-wins­­gewende organisasie met takke reg-oor die land wat vroue die nodige kennis gee om ma’s by te staan in die geboorteproses. Om die kursus te slaag moes Denielle tydens haar opleiding vier geboortes bywoon, besoek aflê by ’n geregistreerde borsvoedingskonsultant en ’n eksamen aflê.
Einde verlede jaar het sy haar sertifikaat ontvang en kon sy met trots sê dat sy nou ’n gekwalifiseerde doula is, een van min in die streek.

Denielle benadruk dat die beroep van ’n doula verskil van dié van ’n vroedvrou – die doula se fokus is geheel en al op die ma se emosies en welstand. Die vroedvrou fokus op die mediese aspekte.

“Ons werk almal saam as ’n span, – die gi­ne­koloog, verpleegsters, vroedvrou en die dou­la,” vertel Denielle. Sy bied ook ondersteu­ning vir die pa om deel te wees van die geboorte-ervaring. Sy is voorts deurlopend by die ma wanneer die hospitaalpersoneel moet skofte ruil.

Haar werk is om te observeer en daarvolgens op te tree. Sy kan die ma help met natuurlike pynverligting voor en tydens die geboorteproses deur sekere asemhalingstegnieke, mas­sering, stap, musiek, water en selfs dans.

Hierdeur word ­natuurlike “goedvoel-hormone” soos oksitosien vrygestel, wat die geboorteproses tot 41 minute kan verkort.

Dit is volgens Denielle ook belangrik om die “goue uur” na geboorte te koester waar die ma en baba vel-teen-vel lê om die band tussen hulle te bevorder. “Dit is ook ’n goeie wegspringplek vir borsvoeding”, vertel Denielle. Dié hormone bevorder ook natuurlike geboorte, wat ’n korter herstelproses inhou.

Die doula staan ook die gesin ná die geboorte by, wat volgens Denielle ’n tyd van groot vreugde is, maar ook ’n baie emosionele tyd.

“Vir ’n gesin is dit ’n tyd van ver­andering – sosiaal en emosioneel. Die doula kan hiermee ook hulp en leiding gee, veral in die eerste paar weke ná geboorte.”

Denielle sê haar inspirasie kom van die Here af. “Mense, veral vroue, is geskape om mekaar te help. My Skepper het my ook die vermoë gegee om die kursus aan te pak en te voltooi terwyl ek ’n jong kind gehad het”.

Sy glo haar hoofdoel is om die ma te ondersteun tydens die geboorte wat sy kies en om alles in haar vermoë te doen om toe te sien dat dit ’n positiewe ervaring is, eerder as ’n perfekte plan. Uiteindelik is sy daar om swanger vroue en nuwe mammas te versorg, bederf en te bemagtig. (Deur Christine Schoeman)