Lewendige handel in plaaseiendomme

ALTESAME 36 landbou-eiendomme is in die 12 maande van 1 Desember 2015 tot 30 November 2016 in die Oudtshoorn-gebied tussen De Rust en Calitzdorp geregistreer, volgens Jacques de Beer, prinsipaal van Pam Golding Eiendomme op Oudtshoorn.

Hy sê slegs registrasies is in ag geneem met die bepaling van dié syfers en nie die oordrag van ledebelang in entiteite nie.

“Soms verkoop boere nie die eiendomme self nie, maar die entiteite waarin hul eiendomme is. Die oordrag van ’n eienaar se eiendom van een entiteit na ’n ander is ook uitgelaat. Die syfers is konserwatief bereken,” het De Beer gesê.

Verskeie groottes plase is verkoop, van 0.6 ha vir R1040000 tot 3000 ha vir R20000000. Die klein plasies is meestal as leefstylplase gekoop, maar daar is ook groot produksieplase. Hierdie plase sluit in weiveldplase, wildsplase en besproeiingsplase.

Volgens De Beer het sommige plaaslike boere ook hul produksiekapasiteit vergroot deur plaaseiendom by te koop.

Hy sê heelparty plase is tussen De Rust en Oudtshoorn verkoop asook in die omgewing van Lategansvlei en Matjiesrivier. Eiendom is ook in Armoed verkoop.