Ontmoet sjef Daniel Jay Smith

Daniel Jay Smith (28). Foto verskaf

Van die VSA en Italië na die Klein Karoo!

Een van die vele kulinere kunswerke op sjef Daniel se spyskaart by Jemima’s Restaurant op Oudtshoorn. Foto verskaf

’N ENERGIEKE jong sjef met uitgebreide internasionale ervaring staan deesdae aan die roer van sake in die kombuis van Jemima’s Restaurant in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn.

Sjef Daniel Jay Smith (28) is opgewonde om sy ervaring en passie vir fynproewerskos met die Klein Karoo te deel. Hy het met Die Hoorn hier­oor gesels.

Daniel, wat in Constantia in Kaapstad gebore is, het matriek in Pretoria voltooi en in 2012 sy studie en loopbaan in die kulinêre bedryf begin. Na sy professionele sjefkursus by die Prue Leith Culinary Institute in Centurion was sy eerste professionele aanstelling onder David Higgs, wel­be­kende Suid-Afrikaanse sjef, by die luukse Saxon Hotel in Sandton – ’n prestasie en ondervinding wat enige jong sjef hul messe voor sal gee!

Na die Saxon het Daniel by die bekende JEM-spysenieringsgroep in Johannesburg aangesluit, waarna hy by ’n paar restaurante ’n draai gemaak het om te verseker dat sy begrip van en ondervinding in die professionele kombuis so omvattend moontlik is.

Na sy laaste betrekking in Suid-Afrika as sous-chef de cuisine by die eksklusiewe Ebotse Golf & Country Estate in Benoni het Daniel besluit om sy ondervinding in die buiteland te gaan uitbrei.

“Dit was ’n moeilike besluit om ’n senior posisie te verlaat,” sê hy, “maar ek het geweet dat daar vir my nog veel meer daar buite wag om te leer.”

Daniel het na die VSA vertrek waar hy weer heel onder moes begin om homself te bewys, maar hy het hom sommer gou weer in gesogte en be­kende kombuise bevind.

Tydens die vier jaar wat hy in die VSA was, het Daniel in onder meer Pennsylvania, Florida, New York en Wyoming gewerk. Toe hy tevrede was met die ondervinding wat hy daar opgedoen het, het hy ’n paar maande deur Italië gaan toer om homself ver­troud te maak met die intrinsieke metodes en fasette van die Ita­liaan­se kook­kuns.

“Ek was daarna ge­reed om weer my familie en vriende te sien, en het na Suid-Afrika te­rug­gekeer om tydens die besige toe­risme­sei­soen by my ouers, An­tony en Diane Page, se Equleni Gasteplaas in Sedgefield te help. Dié ekogasteplaas se vyf self­­sorg-gastehuise en mas­sie­we passievrugteboord het ons behoorlik besig gehou.”

Daniel vertel skaam hoe hy op Oudts­hoorn beland het: “Ek het ’n pragtige dame ontmoet wat op Oudtshoorn woon, en ek het vir haar kom kuier. En dit is hoe die Oudtshoorn-gogga my gebyt het!

Ek het my CV vir Pierre van Jemima’s Restaurant gestuur, en hier sit ek nou!”

Daniel, vertel ’n bietjie van jou vroegste kulinêre herhinneringe.
“My vroegste kookherinneringe is definitief my ma, wat in die Karoo grootgeword het, se boere­kos.
My vroegste smaakherhinnering is waar ek nog in my doek in ons groentetuin gesit en grawe het terwyl my ma groente pluk. Ek het wortels en radyse sommer so uit die grond getrek en met grond en al geëet! Ek onthou die smaak van daar­die groente vandag nog.
“Ek het haar van kleins af in die kombuis dopgehou – haar boerboontjies was die beste, maar sy het ook gebak. Soos ek ouer geword het, het ek saam begin werk aan die koue disse. Later het ek kind alleen vir ons gesin Sondag-ontbyt voorberei, en na só ’n ontbyt het my sussie gesê dat ek ’n sjef moet word. Wel, die koeël was deur die kerk!”

Wie was jou kulinêre helde as jong sjef?
“My absolute kulinêre held was en is steeds die Britse topsjef Marco Pierre White. Die ontwikke­ling van sy jong dae af tot waar hy nou is, bly vir my ’n inspirasie: sy houding, sy passie en sy vermoë om daagliks die uitdagings van ’n professionele sjef te hanteer. Nog ’n held is die Spaanse sjef Ferran Adrià. ’n Boek oor hom, The Sorcerer’s Apprentice, het ’n groot impak op my en my loopbaan gehad.”

Wat is jou planne vir jou nuwe pos as hoofsjef by Jemima’s Restaurant?
“Oudthoorniete en toeriste in die Klein Karoo moet hul regmaak vir ’n groot bederf! Ons beplan om ons nuwe spyskaart in September bekend te stel, so hou vir seker hierdie spasie fyn dop.”

• Kontak Jemima’s Res­taurant by tel 044 272 0808 om te bespreek en die kulinêre kuns van sjef Daniel Jay Smith te beleef. (Deur Robert Koen)