“MORELE verval in Suid-Afrika het kritieke afmetings aangeneem. Dit is die onveiligste land ter wêreld vir kinders. Dit is in Suid-Afrika waar meer kinders ter wereld die afgelope tien jaar verkrag is.”
Met hierdie inleiding het die opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams, onlangs ouers en opvoeders van die Hoërskool Ladismith op die punt van hul stoele laat sit. Adams, wat hom al meer as 15 jaar daarvoor beywer om mense – veral kinders – se waardigheid te herstel deur ordentlike informele huise vir hulle in Kaapstad te bou, staan ook bekend as die Shackbuilder.
“Die polisie kan die strate patroleer, maar hulle kan nie huise, wat die eerste beleweniswêreld van ’n kind is, patrolleer nie, het hy aan die gehoor gesê. “Dissipline begin by die huis. Ouers is deesdae so jonk en is dit asof hulle ’n handleiding soek om hul kinders groot te maak.”
Hy het Singapoer uitgesonder as ’n modelland waar die regering, anders as in Suid-Afrika, presies weet waarheen hulle met hul kinders en land op pad is.
Volgens hom smeek kinders om leiding, al kom dit nie so voor nie.
“Ek het ’n intensiewe studie oor familiebesighede gedoen, hul funksionaliteit bestudeer. Hulle weet waarheen hulle op pad is. So moet kinders ook weet waarheen hulle gesin op pad is.
“Ek glo aan familievergaderings. My kinders behoort te weet of hul ouers finansieel die mas opkom. Gee hulle insae in julle finansiële sake. Vertroue is belangrik.”
Hy het vertel dat Somaliërs in die Wes-Kaap op die beginsel funksioneer van ’n netwerk waardeur die hele familie kapitaal voorsien sodat die eerste kind sy besigheid kan begin en so word dit dan na die volgende kind en die een daarna oorgedra sodat almal finansiële vryheid kan bekom.
Volgens hom werk die Chinese op dieselfde beginsel. Hy het ook verwys na die vier leiers van die bekende Four Cousins-wynreeks, wat nie met mekaar kompeteer nie maar mekaar vertrou en aanvul.
“Gee leiding aan jou kind: Lead first, serve first. Laat dit jou dryfveer wees. Laat kinders die gesagstrukture in die huis ken en verstaan. Ouers moet mekaar respekteer sodat kinders die waarde van respek kan sien en aanleer.
“Kommunikeer met mekaar. Kinders moet weet dat ’n ‘nee’ om ’n bepaalde rede gegee word. Hy moet later kan verstaan dat daardie ‘nee’ eintlik beter voordele ingehou het.
“Skep grense. Dit kweek ’n beter kind en later ’n beter volwassene.” (Deur Deon Meyer)
Gee so leiding aan jou kind, sê opvoedkundige sielkundige
Quinton Adams, opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Foto: Deon Meyer