Kos & wyn van die Klein Karoo: Die Klein Karoo Wynroete

Eiesoortige wynstreek; asemrowende natuurskoon 

Die Hoorn

DIE Klein Karoo Wynroete is een van die mees diverse wynroetes in die land en ’n toerismebestemming soos min.
Die Klein Karoo strek vanaf Cogmanskloof by Montagu in die weste, al langs die R62 deur Barrydale, Ladismith, Calitzdorp, Oudtshoorn en De Rust tot by Herold hoog in die Outeniqua naby George.

Die gebied omvou ’n diverse terroirsamestelling en is die tuiste van wyne en ander drankprodukte van wêreldgehalte.
Die Klein Karoo Wynroete kronkel deur ’n eiesoortige wynstreek waar vrugtige droë wit- en rooiwyne asook witblits, jenewer (gin) en potketelbrandewyn geproduseer word.

Droë wyne, geproduseer van tradisionele Portugese kultivars, is uniek aan Calitzdorp en dra by tot die gesogte Calitzdorp-versnit. Wêreldklas-port en Suid-Afrika se kampioen-muskadel is onder die gefortifiseerde produkte hier te vinde. In die volksmond staan Calitzdorp reeds bekend as die land se Porthoofstad.

Die Klein Karoo Wynroete se kelders bied egter uiteenlopende wynstyle en ’n wye keuse van wyne vir elkeen.

Die roete loop deur die mooiste natuurskoon wat die Klein Karoo kan bied en bring besoekers in kontak met nog ’n uniekheid van die streek: die vriendelike en gasvrye inwoners! Omdat die R62 parallel loop met die Tuinroete is dit ’n interessante alternatiewe roete tussen Kaapstad en Port Elizabeth. Die onderskeie dorpe in die Klein Karoo spog voorts met talle interessante en boonop uitstekende eetplekke langs die pad – die perfekte kuierplek vir besoekers, ook vanaf die kusdorpe.

• Nog redes om die Klein Karoo te besoek: asemrowende natuurtonele • kampering • unieke plantlewe • bring-jou-eie-piekniek • sterrekyk • plaas- en fynbosstaproetes • voer volstruise • ry op ’n kameel • troetel ’n jagluiperd • duik met kro­ko­dille • meerkatbesoeke • streel ’n olifant; die Kango Grotte • zipline • gasvryheid • perderitte • witblits en bier • wildritte • bergfietsroetes • abseil.•

Vir meer inligting oor die wyne van die streek, kontak: info@kleinkaroowines.co.za of besoek die webwerf by www.kleinkaroowines.co.za

• Vir meer inligting oor besienswaardighede, kontak 044 279 2532 of info@oudtshoorn.com of www.oudtshoorn.com./