Kos & wyn van die Klein Karoo: Skatkis van kos en wyn

Niel Els van die Turnberry Boutique Hotel. Turnberry is onlangs vereer vir die hotel se bydrae tot kostoerisme in die streek.  Foto: Schalk le Roux

Niel Els van die Turnberry Boutique Hotel. Turnberry is onlangs vereer vir die hotel se bydrae tot kostoerisme in die streek. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN is nie net die tuiste van die KKNK nie. Dit is ook geleë in ’n streek wat ’n skatkis is van kos en wyn van uitstaande gehalte.

Die Klein Karoo se olywe en olyfolie, volstruis­vleis, -droëwors en -biltong, roosterkoek, vye, appelkose, hanepootdruiwe, port en wyn, jenewer (gin) en brandewyn en boetiekbier – is van die streek se juwele wat kosliefhebbers se harte sag maak.

Die pad na inwoners van die streek en besoekers se harte loop deur plaaslike produkte, sê Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel op Oudtshoorn en chef van formaat. Turnberry is juis onlangs met ’n spesiale Smulpaaptoekenning vereer vir die hotel se bydrae om kostoerisme na die streek te bevorder.

Buitelandse toeriste kan nie uitgepraat raak oor die vleisbraaivure van Turnberry en die Klein Ka­roo-ontbyt met vetkoek en konfyte uit die streek nie.

“Ons het dit reggekry om tot ’n groot mate plaaslike produkte te gebruik omdat ons omge­wing so ’n ongelooflike mooi mandjie produkte bied,” sê Els.

“Ten minste tagtig tot negentig persent persent van dit wat ek gebruik, kom uit ’n radius van 60 kilometer – al ons bederfbare produkte, dinge soos die preserves van oom Swepie le Roux van Domein Doornkraal, Francois Ferreira se produkte, ons volstruisvleis – volstruis-schnitzel, of volstruisfillet of volstruisnek in die winter.

“Roosterkoek wat oral bekend is, is deel van Oudtshoorn. Ons is geseën met van die beste koud geparste olyfolie in die land. Die beste vye in die wêreld kom uit Prins Albert en die omgewing”

Els sê behalwe vir die gehalte van plaaslike produkte, is dit ook belangrik dat almal daarna moet streef om hul koolstofvoetspoor te verminder, iets wat maklik bereikbaar is deur plaaslike produkte te gebruik.

“Ten minste vyftig persent van Turnberry se gaste is uit die buiteland. Dit is belangrik vir Europeërs en Skandinawiërs – wat klaar ver moes vlieg om hierheen te kom – om hul koolstofvoetspoor te verklein.”

By  Oudtshoorn en De Rust Toerisme se ontmoet-en-groet-aand verlede Dinsdag was van links Tammy Moult (assistent-bemarkingsdirekteur by die Cango Wildlife Ranch), Billy Engelbrecht (voorsitter Oudtshoorn en De Rust Toe­­risme), Nolithando Mwati (onder-burgemeester van die Groter Oudtshoorn) en Hugo Theart (waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk). Sowat 50 mense het die aand bygewoon.  Foto: Angelique Erasmus