DIE KKNK is begin Desember benoem as een van die ses gewildste feeste van 2018 wat meeding om die kykNET Fiësta Fees van die Jaar-prys.
Die publiek het die geleentheid om tot middernag op 13 Januarie vir die KKNK te stem.
Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied, het KKNK-vriende en feesgangers aangemoedig om vir die KKNK te stem. “Die prys word alleenlik op grond van die stemme van die publiek aangewys en ons moedig alle ondersteuners van die fees aan om die woord te versprei en ook self vir die KKNK te stem. Ná 25 jaar sal dit ’n kroon op ’n kwarteeu van kunste in die Klein Karoo wees.”
Elke persoon kan net een keer stem. Doen die volgende: kliek op https://kyknet.dstv.com/wen/ kies-jou-gunsteling-fees-9de-kyknet-fiestas, en bring jou stem uit.
Ander benoemings vir die Fiëstas sluit onder meer die plaaslike kunstenaar Danny B in! Hy is benoem vir die Fiësta vir die beste musiekgedrewe produksie: buitelug, vir die opelugkonsert Rymklets van Oos tot Wes. Hierdie is sy tweede opeenvolgende nominasie in dié kategorie.
Die opelug-konsert Boontoe!, waarin die Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor opgetree het, ding in dieselfde kategorie mee.
Verskeie ander KKNK-produksies is vir Fiësta-toekennings genomineer, naamlik Lepeltjie vol snare asook David Kramer se Platteland (beste musiekgedrewe produksie), Lee Ann van Rooi (beste vroulike akteur) en Albert Pretorius (beste manlike byspeler) in Ons is almal freaks hier; Anna-Mart van der Merwe (beste vroulike byspeler in Swerfgoed, De Klerk Oelofse (beste manlike byspeler) in Babbelagtig. Babbelagtig is benoem as beste aanbieding, asook beste duo of ensemble, en Amanda Strydom in Stadig oor die klippers en Lize Beekman in Stilte na die Storm (beste musiekgedrewe produksie: podium).