Oudtshoorniete skitter in ‘Droomkraan Kronieke’

Die ‘Droomkraan Kronieke’-span bestaan meestal uit Oudtshoorniete. Voor van links is Craig Leo, Janion Kennedy, Jermaine Bruintjies, Carlo Daniels en Niel Coppen. Agter staan Meteo Petersen, Theo Witbooi, Mirinda Ntantiso, Tiffany Saterdaght, Chantel Phillipus en Melikhaya Blou. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORNIETE maak vanjaar weer naam tydens die KKNK met die produksie ‘Droomkraan Kronieke’ wat verhale van inwoners op die verhoog ten toon stel.

Die produksie spruit uit 2022 se opwindende Karoo Kaarte-projek, die breinkind van die befaamde visuele kunstenaar Vaughn Sadie en teatermaker Neil Coppen.

Vanjaar is nog twee bekendes in die Suid-Afrikaanse drama-bedryf betrokke. Craig Leo is ’n wêreld-bekende poppespeler en Carlo Daniels het reeds ’n Kanna-toekenning ontvang vir sy optrede op die verhoog.

‘Droomkraan Kronieke’ gaan volgens Craig en Carlo heel anders as 2022 se ‘Op hierie dag’ wees, wat ook uit die Karoo Kaarte-projek gespruit het.

‘Op hierie dag’ was ’n teaterproduksie wat lewe gekry het uit ’n opwindende “terugblik”-projek wat handel oor die Oudtshoorn-omgewing se ongeskrewe en soms onvertelde geskiedenis, en het verlede jaar nie net gehore by die KKNK vermaak nie, maar ­Oudtshoorn se ongesiene talent ten toongestel. Dit was ook vir Kanna-toekennings benoem.

Craig vertel dat hy vanjaar ’n ander aspek na die vertoning bring met sy geskiedenis in poppespel. Hy is ’n teatermaker, ontwerper en poppespeler. Hy loop letterlik die hele wêreld vol met ’n massiewe pop oor die afgelope paar jare.

Carlo is ’n fisiese teaterkunstenaar, en met sy unieke manier van optrede bring hy ’n hele ander aspek van kuns na die gehoor.

“Ons verken baie verskillende aspekte van drama in hierdie produksie. Ons gaan ook baie verskillende mediums van kuns gebruik om mense van Oudtshoorn se stories uit te beeld. Met hierdie produksie beweeg ons terug in geskiedenis, maar ook in die toekoms in,” sê Craig.

Volgens Carlo word baie vermag deur hierdie produksie. Inwoners se stories word op verskeie maniere vertel – fisiese en visuele optrede word gebruik. “Hier is baie talent op Oudtshoorn. Met die akteurs hier gaan ons mense se stories inkleur en dit oordra aan die gehoor. Ons gaan ons drome inkleur.”

Bekende Oudtshoorniet, Tiffany Saterdaght, tree op as hoofskrywer en -navorser in die stuk. (Deur Stefan Skapie Goosen)