Kobus Spies se streekskuns beïndruk by KKNK

Bo: Die Oudtshoorniet Kobus Spies tydens ’n gesprek oor sy kunswerke wat by die afgelope KKNK in die Prince Vintcent Gebou uitgestal is. Links van hom hang ’n kunswerk wat hy as skoolkind op Oudtshoorn geskilder het.  Onder: Van Spies se kunswerke wat uitgestal is.  Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
HY hoop om weer vanjaar soos van ouds by Klein Karoo Klassique uit te stal, sê die Oudts­hoorniet Kobus Spies wie se werk vanjaar die eerste keer ook by die KKNK te sien was.

Spies wat sedert 2009 jaarliks by Klein Karoo Klassique uitstal, is verlede jaar deur die KKNK se kunskurator, Lucia Boer, genader om sy werke – wat hoofsaaklik tonele uit die Klein Karoo uitbeeld – by vanjaar se 25ste KKNK uit te stal.

Sy olieverfskilderye het fluks by die fees verkoop, en hy is reeds genader om vanjaar ook in Johannesburg te gaan uitstal.

Spies het by ’n gesprek oor sy kuns op die laaste dag van die fees, vertel dat hy op skool begin skilder het onder die wakende oog van sy “wonderlike” kuns­onderwyser, mnr “Swienie” van Rensburg. Na skool het hy egter heeltemal opgehou en hom op sy beroepslewe toegespits. Maar 40 jaar later het hy weer besluit om die kwas op te tel en tot sy verrasing gevind dat dit nie vir hom moeilik was om weer te begin skilder nie.

“Dit was asof ek vir die veertig jaar wel geskilder het; asof iets in my onderbewussyn in dié tyd tot wasdom gekom het.”

Spies vertel dat hy altyd met ’n “hoofkleur’ begin wanneer hy met ’n nuwe skildery begin, en dan kyk watter kleure dit komplementeer. “Dis iets wat ek myself geleer het om te doen. Kleure harmonieer soos musiek. En dit is my motto – ek speel met kleure.”

Hy werk ook baie met die kontras van lig en skadu.

Die onderwerpe wat hy skilder, hetsy natuur- of straattonele – is altyd iets wat hom laat vassteek om weer te kyk. “Ek soek altyd of ek nie ’n ‘wow’ sien nie en probeer dan daardie ‘wow’ skilder.”

Vir sy lekker los styl gebruik hy hoofsaaklik ’n kwas, maar die mure van geboue doen hy met ’n paletmes – soos ’n troffel.

Hy vertel ook dat sy sketsboek altyd saamgaan waar ook al in die wêreld hy reis. Waar ander foto’s neem van hul reise, maak hy daagliks sketse, en soms gebruik hy elemente daarvan weer in sy skilderye.