Saam met Demi Lee Moore (middel) is van links Sarie de Wet, bemarker by die KKI se leerafdeling, Barthlo Visagie, Demi Lee se vriend, Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Beperk, en Arno Albertyn, uitvoerende direkteur KKI-leerafdeling. Foto: Schalk le Roux

Demi Lee Moore met haar deftige Anderson Bean-stewels. Foto: Schalk le Roux
Deur Schalk le Roux
DEMI LEE MOORE, wenner van die musiekprogram Die Kontrak op die VIA TV-kanaal verlede jaar, het ’n uitsonderlike geskenk by die KKNK gekry, ’n deftige paar blou cowboy-stewels van volstruisleer uit die Klein Karoo!
Klein Karoo International se leerafdeling het dié paar Anderson Bean-stewels wat in Amerika vervaardig is, aan Demi Leer geskenk “omdat sy die nuwe Afrikaanse country-stem is”, sê Sarie de Wet, bemarker by die leerafdeling.
“Die stewels, wat baie gewild in Amerika is, sal beslis haar beeld as country-sanger aanvul.”
Demi Lee het grootgeword op Prins Albert, waar haar pa, Herman Moore, ’n boorman was.
Sy vertel sy was toevallig by die heel eerste KKNK in 1995 toe sy vyf jaar oud was. Hoewel sy nie veel van daardie KKNK onthou nie, was sy nadat sy matriek in 2008 voltooi het, elke jaar by die KKNK. Dit is vanjaar die tiende jaar ná mekaar dat sy hier optree.
“Om by die KKNK te kom optree, is vir my die hoogtepunt van elke jaar. Ek het vanjaar sommer my hele familie saamgebring,” vertel sy.
Demi Lee, wat in 2014 sewende was by Idols South Africa, het verlede jaar Die Kontrak gewen wat vir haar baie deure oopgemaak het.
“Ek kan nie glo dat so baie goeie goed met my gebeur het sedert ek Die Kontrak gewen het nie.
“As deel van my prys het ek ’n platekontrak by Coleske Artists gekry en het my debuutalbum Mis Eet
Slaap Herhaal einde November verskyn,” vertel sy.
Die album sowel as die titelsnit is sedertdien boaan Afrikaanse trefferlyste. Die album het reeds goue status in Maroela Media se Afrikaanse Top-20-treffersparade verwerf.
Verder is dié blondekop-sangeres volbespreek vir die res van die jaar.
Haar vriend, Barthlo Visagie, wat eers kitaar gespeel het vir onder andere Jack Parow en Emo Adams, speel nou voltyds vir haar kitaar en reis saam met haar. Barthlo het so baie van die volstruisstewels gehou, dat hy vir hom ook ’n paar aangeskaf het!
“Ons kom nou op plekke waar ons nog nooit voorheen was nie en leer die land goed ken,” sê hy.
Volgens Demi Lee gaan dit so goed met hulle dat hulle nou hul eie huis in Fairie Glen in Pretoria het.
Demi Lee het voorheen saam met haar ma, Marlene, gewoon.
Wat haar nuwe cowboy-stewels betref, sê sy blou is haar gunsteling kleur. “En hulle is baie gemaklik, so gemaklik soos slippers!”
En laastens vertel Demi Lee dat die enigste kompetisie wat sy voor Die Kontrak gewen het, was toe sy as vyfjarige by die Olyffees op Prins Albert as Mej Olyfie gekies is!