‘n Reuse-boomstomp met die naam Bloch op pad na Oudtshoorn

 

Bloch in Times Square, New York. Dit is nou vanaf die VSA op pad na Suid-Afrika.

Bloch in Times Square, New York. Dit is nou vanaf die VSA op pad na Suid-Afrika en die KKNK.

Deur Ilze-Mari Gründling
MET vanjaar se KKNK pak die kuns­galery ArtKaroo iets heel besonders aan; en die hoofrolspeler in hul projek is ’n boomstomp wat twee ton weeg, vyf meter hoog staan en Bloch genoem word!

“Ons het per toeval deel geword van hierdie wêreldwye projek toe die projekbestuurder van Bloch ons galery besoek het,” sê Janet Dixon, eienaar van ArtKaroo.

Volgens haar wil Bloch mense bymekaar bring ongeag hul kulturele, taal- of maatskaplike agtergrond. Die projek het sy oorsprong by twee Sweedse kunstenaars, Marcus Gossolt en Johannes Hedinger (bekend as Com&Com), wat een van hierdie boomstompe in 2011 gekoop het.

Bloch is deel van ‘n ou tradisie in Switzerland waar ’n boomstomp – nadat al die takke in die winter afgekap is – ook afgekap word en deur 20 mans tussen twee dorpe getrek word. Aan die einde van hierdie tog word die stomp op ’n veiling verkoop en spesiale meubels word gewoonlik van die stomp gemaak.

Die Bloch-projek wil dié tradisie met kontemporêre kuns kombineer.

Dixon vertel: “Ons projek het twee bene – jong kunstenaars sal by die KKNK betekenisvolle illustrasies op die hout uitbeeld terwyl ander die boomstomp voor ArtKaroo gaan plant. Die boomstomp sal dan omring word met spekboomplantjies – be­kend in die Klein Karoo vir hul genesende krag. Ons is tans besig om blikkies te versamel waarin die steggies geplant sal word.

“Elke land het sy eie tema. Ons het besluit op die teenoorgestelde van vrees en gulsigheid. Ons glo dit is om jouself en jou medemens lief te hê, ongeag jul verskille. Dit wil ons graag met Bloch uitbeeld – begrip en empatie vir ander kulture.

Sy sê “iets van Oudtshoorn en Suid-Afrika” sal ook op die stomp uitgebeeld word.”

• Bloch was al in Europa, Asië en Noord-Amerika en is tans op ’n boot op pad na Suid-Afrika. Dit sal reeds vanaf 5 April tot en met die KKNK by ArtKaroo te sien wees.

Beeldmateriaal sal ook oor die projek geskiet word en ’n kortfilm sal saamgestel word wat in Switzerland geopen sal word.