Drama op die planke in die Klein Karoo

BEKROONDES en debuutwerke kenmerk die to­neelprogram van vanjaar se KKNK. “Vanjaar se toneelaanbod is divers met kontemporêre en klas­sieke stukke, werke wat suksesvol elders aan­ge­bied is en dramas wat die eerste keer opge­voer word”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK.
In Weerklink van ’n Wanklank – ’n eenman-memoir – is Pieter-Dirk Uys wat vanjaar met die Kunste Onbeperk Kruispunt vereer word, te sien.

Jason Jacobs wat vanjaar vereer word met die Kunste Onbeperk ‘Nuwe Stem’, behartig die teks, regie en ontwerp van In Wag Van, waar toegewyde geloof trompop teen vrees vir die dood te staan kom. Jacobs het ’n Theatre Arts Admin Collective-beurs vir regie met dié stuk gewen.
Hy behartig ook die teks, regie en ontwerp van Kalahari Swaan, geïnspireer deur Tsjaikowski se Swanemeer.

Debuutdramas sluit nuwe tekste van bekroonde skrywers Tertius Kapp en Neil Coppen, asook een van Suid-Afrika se mees bekroonde en gerekende skrywers, Reza de Wet in.

Anna-Mart van der Merwe is te sien in Kapp se nuwe drama Liewer, Jacques Bessenger en Elize Cawood in Coppen se Buite Land terwyl De Wet se Asem ’n verhaal van liefde teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse-oorlog vertel. In die rolverdeling is Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam.

Tien jaar na die wêreldpremière van Lara Foot se Karoo Moose – wat in die Karoo afspeel – maak dié drama ’n draai in die Klein Karoo.

Pa maak vir my ’n vlieër pa word as tydlose huldeblyk aan Chris Barnard opgevoer met onder meer Sandra Prinsloo en Waldemar Schultz in die rolverdeling.

Prinsloo is ook te sien in So ry Miss Daisy. Saam met haar op die verhoog is John Kani, in sy eerste verskyning as akteur by die KKNK.

Dawid Minnaar is te sien in nóg ’n solo-debuut, die roerende Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran.

Lizz Meiring debuteer met haar nuwe solovertoning Geheime Taal, terwyl feesgangers ook Frank

Opperman in die Fiësta-genomineerde Hond sal kan sien.
Ander dramas om na uit te sien is Beurtkrag met Ivan Botha en Donnalee Roberts, Die vrou uit die see met onder meer Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Erik Holm en Theodore Jantjies, Die reuk van appels asook die inspirerende werk van die ATKV-Tienertoneel-wenners, Die Maan van Bewusteloos en Fragment.