Jordaans wil 3 ton dierekos in!

Margaret en Freddie Jordaan met twee sakke dierekos wat hulle al gekry het. Foto: Ilze-Mari Gründling

Margaret en Freddie Jordaan met twee sakke dierekos wat hulle al gekry het. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
MARGARET en Freddie Jordaan van Oudtshoorn het ’n passie vir diere en beoog om binne die volgende weke drie ton honde- en katkos vir die diereskut in te samel ter viering van Margaret se verjaarsdag en haar en Freddie se 50ste huweliks­herdenking.

Margaret verjaar op 10 Maart en op 18 Maart is die Jordaans 50 jaar getroud.
“Ons mikpunt is 380 sakke. Ons wil groot gaan! Ons beoog om op ons huweliksherdenking al die ingesamelde goedere bymekaar te kry en te oorhandig.”

Verlede jaar het Margaret een ton hondekos vir haar verjaarsdag ingesamel. Sy het toe selfs donasies ontvang van so ver soos Pretoria, Durban, Rustenburg, George, Mosselbaai, Knysna en Kaapstad.
Vanjaar word sy ondersteun deur die Oudts­hoorniete Staan Saam (OSS) Assosiasie, ’n vereniging wat uit die Oudtshoorniete Staan Saam-Facebookblad ontstaan het.

Sy vertel die projek – bekend as Projek Twinkles – is geïnspireer is deur haar eie troeteldiere en vernoem na haar hond Twinkles wat dood is.

“My hond se naam was Twinkles. Sy is oorlede, maar ek is baie lief vir diere en wil graag uit help waar ek kan.”

Sy vertel dat daar tans sowat 60 honde by die skut is.

Fondse wat ingesamel word, sal aangewend word vir veeartskoste terwyl honde­kos wat ingesamel word, aan die skut geskenk sal word. Vir alle geld-donasies sal ’n kwitansie uitgereik word.

“Ons het kos nodig vir die diere. Die skut doen wonderlike werk. Die vrywilligers daar doen hul bes.”
As deel van die fondsinsameling word Sondag ’n spitbraai by Headlines gehou waarvan ’n gedeelte geskenk sal word aan die Twinkles-projek. Besprekings moet voor die tyd by 044 272 3434 gedoen word.
• Lesers kan Margaret by 044 272 5672 of 082 563 0619 kontak vir doanasies. Donasies kan ook by Deon Bosman afgelewer word by Super Car Wash afgelwer word. Hy kan gekontak word by 082 459 0674.