SEKURITEITSKAMERAS kan help om misdaad te bekamp, maar dan moet die beeldmateriaal daarop duidelik genoeg wees om verdagtes te identifiseer, sê die stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, brig Levona Januari.
Luidens ’n verklaring wat uitgestuur is deur Januari se kantoor, sê sy dit gebeur al hoe meer dat mense wat in misdaad betrokke is, afgeneem word met sekuriteitskameras.
“In die meeste gevalle is die beeldmateriaal nie goed genoeg vir die identifisering van verdagtes nie. Die doel van die kamera is tog om die verdagtes te kan identifiseer en om as ’n afkrikmiddel te dien.”
Sy het besighede wat kameras het, gevra om seker te maak hul kameras is doeltreffend. So kan seker gemaak word dat verdagtes geïdentifiseer kan word:
• Maak seker die kamera is in fokus waar dit mense afneem.
• Maak seker die kamera is ooghoogte. Met meeste kameras wat hoog geplaas is, kan persone nie geïdentifiseer word nie en dit ook nie gebruik word in gesigherkenningsprogramme nie. Gebruik ’n kombinasie van kameras indien moontlik – byvoorbeeld by die ingang op die regte hoogte en ander kameras om ’n moontlike misdaad op te neem.
• Maak seker jy stoor of kyk gereeld na jou kamera se beeldmateriaal. Kameras begin oor ou beeldmateriaal opneem as die hardeskyf vol raak. Indien moontlik maak ’n kopie van beeldmateriaal – misdaad word dikwels eers later ontdek.
• Maak seker die kamera neem op sy beste resolusie af. Dan is dit moontlik om die beeld te vergroot sonder om kwaliteit in te boet.
Kamerastelsels is nie goedkoop nie. Maak seker jy kry waarde vir geld deur die regte kamera vir die regte doel te kry en dat dit reg geplaas word.