Vermeende martelaar laat vaar borgaansoek

Fytjie Mei (middel), ma van Natasha, en fami­lielede buite die hof.  Foto: Garnett Wicomb

Fytjie Mei (middel), ma van Natasha, en fami­lielede buite die hof. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
HY gaan nie meer om borgtog aansoek doen nie.

So het die man wat glo die ma van sy kind vir twee dae toegesluit, gemartel en so ernstig aange­rand het dat sy steeds in die hospitaal behandel word, verlede Donderdag (14 September) in die Oudts­hoorn Landdroshof gesê.

Enver Campher, wat van poging tot moord aangekla word, het na bewering vir Natasha Mei (31) in die huis van sy suster in Bongolethu aangehou en ernstig aangerand.

Familielede van Mei het weer die hof volgesit en volgens hulle het Campher seker gehoor dat hy gaan “seerkry” indien hy vrygelaat sou word.

Die familie en gemeenskap is ook kwaad vir Campher se suster en vriend in wie se huis die aanranding plaasgevind het. Hulle beweer dat Campher se suster hom gehelp het om vir die polisie weg te kruip.

Volgens Natasha se niggie, Elmarencia van Hansen, was feitlik alles in die huis met bloed besmeer. Hulle het Emerentia bebloed en kaal op ’n bed in die kamer aangetref nadat gemeenskapslede die huis se deur oopgetrap het.

Volgens Natasha se moeder, Fytjie Mei, is van haar dogter se tande uitgeslaan.

“Dit was vreeslik om my kind so te sien,” sê sy.

Volgens ’n ander familielid, Siena Mei, moet Natasha op George ’n operasie aan haar kakebeen ondergaan.

Ao Martin le Roux, die ondersoekbeampte, sê die ondersoek is feitlik voltooi behalwe vir hospitaalverslae wat nog nie ontvang is nie.

Landdros Lorraine Samuels het die saak tot 9 Oktober uitgestel.