Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n verkeersbeampte van Prins Albert wat na bewering toetse vir leerlingrybewyse gemanipuleer en rybewyse in ruil vir betaling uitgereik het, is in die Oudtshoorn Streekhof hervat.
Die saak teen Andrew Meintjies (53) is verlede jaar by twee geleenthede deur streeklanddros LA Wilkens uitgestel omdat ’n polisiedeskundige, wat moes getuig oor videomateriaal op ’n CD, op ’n kursus was.
Die verhoor is verlede Dinsdag vir voortsetting tot 16 Mei uitgestel na die tegnikus en nog ’n polisie-lokvink, ao Cokwiswa Rahlushe, se getuienis.
Meintjies se regsverteenwoordiger, Mathilda van Niekerk, het dit aan Rahlushe gestel dat sy haar weergawe aanpas en nie die waarheid praat nie. Dit verskil volgens haar hemelsbreed van die getuienis van die ondersoekbeampte, ao Jason Pietersen.
Meintjies is Maart 2016 op Drie Susters deur die Valke in hegtenis geneem en daarna in die Prins Albert Landdroshof R2 000 borgtog toegestaan.
Borgtog en borgvoorwaardes is Dinsdag verleng.