• Vierde verdagte kan nie opgespoor word nie
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen drie vroue van Prins Albert wat van moord aangekla was saam met ’n man wat nie opgespoor kon word nie, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof van die hofrol verwyder.
Die regsverteenwoordiger van Fiola Philida Scheffers (33), Amelda Katzen (29) en Geraldine Katzen (22), het beswaar aangeteken teen die versoek van die staat dat die saak weer uitgestel word omdat die vierde verdagte, Jaco Guga (23), nie opgespoor kan word nie.
Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, is hy deur die ondersoekbeampte meegedeel dat Guga blykbaar Prins Albert verlaat het en tot dusver nie opgespoor kon word nie.
Die verdediging het die hof gevra om verdere uitstel te weier en die saak teen die drie vroue te skrap.
Volgens die verdediging is daar nie ’n saak teen die vroue nie en kan dit deur die hof nietig verklaar word.
“Daar is nie iets om uit te stel nie en die saak kom sedert Februarie verlede jaar nie aan die gang nie,” het die vroue se regsman gesê.
Streeklanddros Retha Pretorius het toegegee en gelas dat die saak teen die vroue van die hofrol verwyder word.
Die saak teen die vier spruit uit ’n bakleiery op 2 Maart 2013 in Muisvoëlstraat, Prins Albert, waartydens ’n jong vrou, Ellen Piedt, beserings opgedoen en later gesterf het.