Egpaar wil bydrae kom lewer op hul 9de huweliksherdenking

Liezel en Raoule Barnard. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
’N KAAPSE egpaar het besluit om spesiaal vir hul negende huweliksherdenking op 14 April Oudtshoorn toe te reis om kos en ander noodsaaklikhede aan die diereorganisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) by die munisipale skut te skenk!
Liezel Barnard vertel dat sy eendag ’n artikel oor ODIN op die internet gelees het en na ’n bietjie gesoek op hul Facebook-bladsy afgekom het.
“Dit was een van daardie artikels wat ’n mens se hart raak en ek wou meer uitvind oor wat ODIN doen. Ek en my man, Raoule, het toe besluit om die naweek van ons negende huweliksherdenking in Oudtshoorn te spandeer en die skut te besoek,” sê sy.
Barnard het ’n pleidooi aan haar vriende en werkskollegas gerig om kos, speelgoed, komberse en ander benodigdhede te skenk. Dié skenkings sal op 14 April aan die skut oorhandig word.
“Ons ontvang egter geen geld nie. Kontantdonasies kan direk aan ODIN of in hul veeartsrekening betaal word,” sê sy.
Colleen Smith wat ODIN op die been gebring het, sê sy en die ander vrywilligers van die organisasie is “stomgeslaan deur die fantastiese inisiatief”.
“Ons waardeer hierdie fantastiese geskenk van die Barnards. Ons het al baie hulp ontvang van verskeie mense en deur verskillende inisiatiewe, maar hierdie een gaan die ekstra myl.”
Smith sê inwoners is welkom om betrokke te raak by die inisiatief deur katkos (nat en droog), kos vir klein hondjies en katjies, asook items soos harke, besems, emmers op wiele, squeezies, komberse en skoonmaakmiddels te skenk.
Vir enige navrae, kontak Smith by 072 084 1374.