Twee Klaarstromers is vry na roofklag

Sleutelgetuie afwesig

Deur Garnett Wicomb
Twee jong mans van Klaarstroom wat van roof met verswarende omstandighede aangekla was, is in die Oudtshoorn Streekhof weens die afwesigheid van ’n sleutelgetuie in die saak vrygespreek en ontslaan.

Die 21-jarige Jerrick Hendriks en die 20-jarige Ja-Anwin Arries het na bewering op 17 April 2016 die 66-jarige Dirk Wessels aangerand en daarna van sy tabak, sigaretaansteker en R80 kontant beroof.

Hulle het skuld ontken ten spyte daarvan dat die voorval glo in sterk lig plaasgevind het en Wessels hulle boonop goed ken.

Die twee beskuldigdes se regshulpprokureur, Brian Carelse, het vir hul vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.