Deur Ilze-Mari Gründling
’N MAN van Zoar is Maandag in die Ladismith Landdroshof skuldig bevind op aanklag daarvan dat hy onder die invloed van sterk drank of ’n verdowingsmiddel wat ’n narkotiese uitwerking het, bestuur het.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het Wilfred Dickens (36) verlede jaar tydens ’n residentsliga-rugbywedstryd tussen Ladismith en Zoar na bewering roekeloos bestuur waar daar ’n samedromming van mense – insluitend kinders – was.
Dickens het ten tye van die voorval wat op Saterdag 20 Mei 2017 plasgevind het, met ’n wit Mazda 323 gery.
Hy is deur die hof ’n boete van R6 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is op die voorwaarde dat hy nie weer in dié tydperk aan enige misdrywe skuldig bevind word nie.
Sport is bedoel om mense te laat ontspan in ’n vreedsame atmosfeer,” sê Cederas.
“Hopelik stuur hierdie vonnis ’n boodskap uit aan bestuurders om veral by sportgeleenthede altyd bedagsaam te bestuur.”