Man kry 6 jaar vir menseroof en ­seksuele aanranding

Deur Garnett Wicomb
’N MAN (41) van Dysselsdorp wat op 5 April gevangenisstraf opgelê is nadat hy skuldig bevind is aan aanranding om ernstig te beseer, is verlede Donderdag in ’n tweede saak teen hom aan menseroof en seksuele aanranding van ’n minderjarige meisie skuldig bevind. Hy is verdere gevangenisstraf opgelê.
Jack Schoeman, die pa van vier kinders, se weergawe dat hy op 14 Desember 2014 deur ’n 13-jarige meisie huis toe gehelp is omdat hy “baie dronk” was, is deur streeklanddros Daniel Boks as vals en leuenagtig verwerp.

Die hof het getuienis van verskeie staatsgetuies aangehoor wat die teendeel bewys het.
Schoeman het volgens die landdros ten spyte van die verdoemende getuienis steeds volgehou dat hy onskuldig is en geen teken van berou getoon nie.

Die meisie het deur middel van ’n tussenganger, Mariaan Petzer, getuig dat Schoeman haar die betrokke Sondag aan haar arm gegryp het toe sy en ’n maat van ’n kafee onderweg was huis toe.
Die maat het gaan hulp soek.

Schoeman het aan haar gesê dat hulle gaan vry en dat hy haar met ’n mes sal steek indien sy nie wil saamstap nie.

Die kind het getuig dat sy gedink het sy gaan verkrag word en het begin huil.
Beverley Pietersen het getuig dat sy die twee sien stap het en vir Schoeman gesê het om die kind te los omdat sy ’n skoolkind is. Hy het vir haar nugter voorgekom.

Schoeman het weggehardloop toe ’n oom van die kind, Hendrik Stuurman, saam met die polisie hulle gewaar. Hy het toe ook nie soos ’n dronk persoon gehardloop nie.
Die landdros het die twee aanklagte vir vonnisop­legging saamgeneem en Schoeman tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die hof het ook gelas dat Schoeman se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word. Hyron Goulding was die aanklaer in die saak.
• Schoeman is op 5 April ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan aanranding om ernstig te beseer.
Hy het ’n elfjarige seun met ’n stuk pyp geslaan nadat kinders hom glo geterg het.
Schoeman het beken dat hy die seun op 8 Junie verlede jaar per ongeluk met die pyp raak geslaan het. Volgens hom wou hy net voorgee dat hy gaan slaan omdat die kinders hom geterg het toe die seun sy arm oplig en die pyp hom tref.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind dat die voorgeskrewe vonnis van tien jaar onvanpas sal wees.

Hy het in ag geneem dat Schoeman ’n mate van berou toon en skuld beken het.
“Daar is meer as een rede om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis,” het Van Wyngaardt by vonnisoplegging gesê.

Die hof verstaan wat vooraf gebeur het. Daar is vrede gemaak en die kind se ma vra nie dat die beskuldigde tronkstraf moet kry nie.

“Kinders moet wel beskerm word,” het hy gesê en Schoeman op versoek van Hyron Goulding, staatsaanklaer, ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat beteken dat hy na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool kan aansoek doen.