Deur Garnett Wicomb
DAAR is geen bewyse dat geld aan die beskuldigde oorhandig is nie, sê die regsverteenwoordiger van ’n verkeersbeampte wat tereg staan op klagtes dat hy toetse vir leerling-rybewyse gemanipuleer en rybewyse in ruil vir betaling uitgereik het.
Andrew Meintjies, ’n verkeersbeampte van Prins Albert, verskyn tans op dié aanklagte in die Oudtshoorn Streekhof.
Die ondersoekbeampte in die saak, ao Jason Pietersen van die Direktoraat Prioriteitsmisdaad, het verlede week getuig dat ’n middelman, Grant Paulse, geld aan Meintjies betaal het om oogtoetse te slaag en leerlinglisensies te bekom.
Paulse is saam met twee polisie-agente, ao Alfonso de Leo en ao Cokwiswa Ralushe, gebruik in ’n operasie om Meintjies vas te trek.
Pietersen het onder kruisverhoor toegegee dat hy geen bewyse hiervan het nie terwyl ’n spesiale toestel gebruik is om ’n video-opnames te maak. Die opnames is in die hof vertoon en as bewysstuk aanvaar.
Meintjies se regsverteenwoordiger, Mathilda van Niekerk, het in die hof gesê Paulse is iemand met talle vorige oneerlikheidsmisdade op sy rekord en was glo ook voorheen ’n tikverslaafde. Meintjies sal volgens haar ontken dat hy enige geld van Paulse ontvang het.
De Leo het getuig hy en Paulse is deur Pietersen deursoek voordat hulle na die verkeersdepartement op Prins Albert gegaan het en ook met hul terugkoms.
Ralushe het getuig dat Meintjies haar gehelp het met sekere vrae en dat sy “soveel moontlik” verkeerde antwoorde neergeskryf het. Meintjies het dit dan uitgewis en sy het die toets geslaag.
“Almal wat die toets afgelê het, het geslaag,” het sy getuig.
Volgens haar is sy saam met ’n “onbekende kleurlingman” na die verkeersdepartement en het sy nooit sy naam gevra nie.
Van Niekerk het dit aan die ondersoekbeampte gestel dat dit vreemd is dat die geld wat in die operasie gebruik is, nie gemerk was nie en ook geen opname van die beweerde oorhandiging aan Meintjies gedoen is nie.
Pietersen het hierop gesê die agente wat die spesiale toestelle in hulle besit gehad het, het nie saam met Paulse na Meintjies gegaan om geld aan hom te oorhandig nie.
• Meintjies is in Maart verlede jaar op Drie Susters deur die Valke in hegtenis geneem en later in die landdroshof op Prins Albert borgtog van R2 000 toegestaan.
Streeklanddros LA Wilkens het die saak verlede week tot 30 Oktober uitgestel wanneer ao Ralushe onder kruisverhoor geneem sal word.