Ladismith-verkeersbeampte doen aansoek om ontslag

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n verkeersbeampte van die Kannaland Munisipaliteit wat tereg staan op drie klag­tes van korrupsie, is in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak om ontslag uitgestel.

Andrew Pietersen (53) word daarvan aangekla dat hy hom aan korrupsie skuldig gemaak het deur geld van twee taxi-eienaars te neem en R5 000 van ’n derde geëis het om verkeersboetes te laat “ver­dwyn”.

Pietersen het glo R300 van Abraham Gysman en R500 van Edwin Fortuin ontvang, terwyl hy glo vir Jacques Roothman, ’n taxi-eienaar van Ladismith, gevra het om hom R5 000 te betaal om te ver­hoed dat sy seun – wat glo ’n taxi sonder sonder ’n openbare bestuurspermit bestuur het, ’n boete kry.

Die verdediging het ’n Artikel 174-ontslagaansoek gebring waarin die hof versoek word om die beskuldigde weens onvoldoende getuienis te ont­slaan.

Streeklanddros Daniel Boks het daarna die saak vir uitspraak in die Oudtshoorn Streekhof tot 29 September uitgestel.