Musiekblyspel se wins vir skuiling

Deur Ilze-Mari Gründling
’N DRAMA-GROEP van Beaufort-Wes bied die produksie Masala Saterdag (23 September) op Oudtshoorn in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Oudtshoorn Youth Café en die SUFF Akademie aan ten bate van die Oudtshoorn Skuiling vir Haweloses.

Volgens Elrico van Rooyen, voorsitter die SUFF Akademie op Oudtshoorn, is dit belangrik om aandag te skenk aan die behoeftes van die dorp. “Oudtshoorn is ’n kultuurdorp en ons wil graag dwarsdeur die jaar kulturele produksies aanbied om plaaslike talent te bemoedig. Met hier­die produksies wil ons ook graag teruggee aan die dorp – daar waar die nood groot is.”

Masala, ’n musiekblyspel, is geskryf deur Wendy Anthonie van Beaufort-Wes as deel van die viering van die dorp se 180ste bestaansjaar.

Dit handel oor die inwoners van die destydse Bo-dorp (die noordelike deel van Beaufort-Wes) en vertel die storie van ’n groepie inwoners wat die pyn van apartheid gedeel het en die vernede-ring “van die wet op rasbeheptheid” geproe het.

Die rolverdeling bestaan uit 13 spelers waarvan die oudste 71 en die jongste vyf is.

Die produksie is Saterdag om 18:00 by die Grace Church International in Springboklaan, Bridgton, te sien. Toegang is R10 per persoon.