DAAR is ’n Engelse sêding wat lui: “One man’s trash is another man’s treasure”. In Annemarie le Roux se geval is dit ander mense se weggooigoed wat vir ’n groep werklose mense op Mosselbaai ’n ekstra geldjie in die sak beteken. Geld waarmee hulle hul gesinne kan onderhou en broodnodige items kan koop.
Ou houtlepels, siffies, soutpotte en klere word omskep in pragtige kuns-werke, wat by markte en by ’n winkel op Mosselbaai gekoop kan word.
Annemarie, ’n afgetrede maat-skaplike werker “wat nooit ophou werk het nie”, het in die beginstadium van die Covid-19-grendeltyd ’n werkskeppingsprojek op Mosselbaai begin.
“Die Polisie en munisipaliteit het ’n heenkome gesoek vir dertig mense wat op straat in Mosselbaai gewoon het. Een gastehuiseienaar het aangebied dat die mense by hulle kon kom bly. Nadat almal gestort het, van skoon klere voorsien is en iets te ete gekry het, was dit ook nodig om hulle konstruktief besig te hou. Dit was in die tyd toe jy amper nie eens jou huis kon verlaat het nie.
“Afvalmateriaal is bymekaar gemaak en dit is toe verwerk in verskillende produkte – van houtkerkies tot ander figuurtjies,” vertel Annemarie, wat 30 jaar op Oudtshoorn gewoon het voordat sy in 2000 Mosselbaai toe verhuis het.
Volgens Annemarie was die transformasie van die hawelose mense ’n ongelooflike belewenis. “Binne ’n week was hulle ‘ander mense’. Splinternuwe sikspense. Baie van hulle was op pad iewers anders heen toe die grendeltyd aangekondig is. Nadat ons met hul familie kontak gemaak het, kon ons agt van hulle met hul families herenig. Drie het permanente werk gekry en vier is teruggestuur na die gebiede waarvandaan hulle gekom het.”
Hoewel ’n paar weer in hul ou weë verval het, werk baie van hulle steeds “aan en af” aan die produkte.
Belangstellendes wat die werkskeppingsprojek ondersteun het, het in die grendeltyd bymekaar gekom en ’n groep genaamd Hatch gestig. Hatch help met produkontwikkeling en die bemarking en verkoop van die handgemaakte artikels.
“Dit is ook gestig om die werklose mense te help om nuwe vaardighede te ontwikkel sodat hulle met hul handewerk selfvoorsienend kan raak,” vertel Annemarie.
“Daar is eenvoudig net nie genoeg permanente werksgeleenthede be-skikbaar nie. Deur vir hulle ’n vaardigheid te leer waarmee hulle ’n inkomste kan verdien, kos niks nie.”
By Hatch se winkel op Mosselbaai kan crafters hul tuisgemaakte produkte verkoop. Elkeen het ’n kode en elke twee weke word uitbetalings gedoen.
Hulle bied ook weekliks idee-sessies aan waar talentvolle vrywilligers hul vaardighede met ander deel. Die mense wat dit bywoon, word terselfdertyd geleer om nuut en skeppend te dink en items te vervaardig wat trendy is en goed sal verkoop.
Intussen het die plaaslike munisipaliteit ekstra spasie by die The Goods Shed geskep waar hierdie handwerkers hul produkte kan verkoop.
Dit het nie net by kunswerke gebly nie. Toe die grendeltyd-inperkings verlig is, het van die vroue begin naaldwerk doen. “Hulle het die materiaal en ou klere wat ons as skenkings ontvang het, verwerk en nuwe uitrustings gemaak. Dis hoofsaaklik kleurvolle rokke, rompe en baadjies. Ons noem dit slow fashion omdat dit nie in ’n fabriek gemaak is nie. Elke kledingstuk vat tyd om te maak. Dit word met liefde geskep en is nie perfek nie, eerder uniek.”
• Annemarie stal van die kuns-werke, juwele en klere by Celebratio se vrouedag op Saterdag 21 November uit. Die sprekers is die ginekoloog en seksuoloog dr Marlena du Toit en die plaaslike skrywer Tania Smit. Die kunstenaar Glendine Chisholm bring van haar pragtige kunswerke en teedoeke.
Grundheim bring hul uitsonderlike gins en Jakkalsvlei kom spog met hul La Perlé Rosé, wat dubbelgoud by die onlangse Rosé Rocks-toekennings gewen het.
• Slegs enkele kaartjies is nog be-skikbaar en voorafbespreking noodsaaklik. Kaartjies kos R200 en is beskikbaar by Marita by 0823356059 of info@celebratio.co.za. ’n Beperkte hoeveelheid is by Nostalgie op die dorp te koop.
Die Hoorn is die mediaborg van die geleentheid. (Deur Marita Meyer)
