Toe gaan skool na Mias!

Lenor Snyman help Mias Rossouw met sy skoolwerk by Drie Riviere se eetkamertafel.
Foto: Madri Rossouw

Deur Marlene Malan
TOE Mias Rossouw (10) van die plaas Drie Rivie­re by Prins Albert twee weke gelede ernstig beseer is in ’n motorfietsongeluk, was die vooruitsigte vir gou weer skool toe gaan nie goed nie.

Behalwe vir ’n reuse-wond agter sy linkerknie, is van die ligamente en spiere in dié been geskeur en moes hy ’n noodoperasie in die George Medi­Clinic ondergaan. Dokters het gesê hy moet ’n hele ruk uit die skool bly omdat hy nie enige risiko op die speelgrond mag loop nie. Hy moet ses weke lank met krukke loop.

Terug op die plaas waar hy en sy ma, Madri Rossouw, by sy oupa en ouma, Samie en Johanna Luttig, woon, het die alleenheid hom begin vang én die vrees dat hy agter raak met sy skoolwerk.

Verlede Donderdagoggend, nog voordat hy be­hoor­lik wakker was, het al sy skoolmaats asook Lenor Snyman, Mias se klas­onder­wyser en hoof van Prins Albert se nuwe privaatskool, Christen Akademie, onverwags met boeke, tasse en kosblikke voor Drie Rivie­re se opstal gestaan.

“As Mias nie skool toe kan kom nie, kom die skool na hóm toe,” het Snyman besluit.

Die eetkamer­ta­fel het die werkplek ge­word en die plaas­werf pouse die speelplek.

Volgens Madri het dié skoolbesoek Mias se gemoed én fisieke toestand so goed gedoen dat hy Maandag terug is skool toe.

Gister het ma en seun weer die dokters op George besoek om die herstelpad vorentoe te bespreek. “Die stut aan sy been word geleidelik verstel totdat dit weer heeltemal reg kan buig. Daar lê nog minstens twee maande se stil gedra voor.”

Mias sê hy het geleer “dat ek nie van die motorfietsie moet probeer afspring wanneer ek val nie, maar sáám met hom val. Want dis hoekom die stuk plastiek van die fiets my been beseer het. Ek is net bly ek het nie my been verloor nie.”