Sportdag wou jeug bemagtig teen misdaad

TWEE moorde wat die dorpie Van Wyksdorp, sowat 50 km vanaf Ladismith, vanjaar geruk het, het die Ladismith Polisie geïnspireer om ’n bydrae te lewer tot die voorkoming van misdaad daar, met die fokus op die jeug.

Inwoners is betrek en ’n plaaslike organisasie, Jobs for Garbon, het die leiding geneem om individue en groepe bymekaar te bring en idees uit te ruil oor hoe om kinders positief te bëinvloed. ’n Eerste sportdag is op 28 Oktober gehou met verskillende sportkodes en speletjies waaraan kinders kon deelneem. Tennis het groot byval gevind en dit was duidelik dat daar nie ’n tekort aan talent was nie.

Tydens tee-en-ete-sessies is gefokus op praatjies wat kinders kan help om nie slagoffers van misdaad te word of self misdaad te pleeg nie.

Ao Jannie Cederas het in ’n treffende sessie baie dinge prakties aan die jeug verduidelik: “Moe­nie toelaat dat dwelms en alkohol julle van jul drome beroof nie. Van Wyksdorp het al baie rolmodelle opgelewer; jy kan die volgende een wees. Glo in God, glo in jouself!” was sy inspirerende woorde aan die kinders.

’n Volgende sportdag word vir Saterdag 21 November beplan en daar word beoog om meer ouers te betrek. Die Kannaland Munisipaliteit sal bydra tot die volgende sportdag. (Deur Deon Meyer)