Skakelhuise, duplekse gebou vir Rosevalley

Een van die dupleks-eenhede wat gebou is in Rosevalley (Riemvasmaak) in Oudtshoorn. Dié woonbuurt is by die ingang van Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp en De Rust. Foto: Liesel le Roux

Een van die dupleks-eenhede wat gebou is in Rosevalley (Riemvasmaak) in Oudtshoorn. Dié woonbuurt is by die ingang van Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp en De Rust. Foto: Liesel le Roux

Behuisingsnood huis vir huis aangespreek

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit gaan later vandeesmaand 335 nuwe wooneenhede aan inwoners van Rosevalley (Riemvasmaak) oorhandig. Die eenhede, wat bestaan uit 67 enkel-eenhede, 46 semi-attached eenhede/skakelhuise en 222 dupleks­eenhede, maak deel uit van fase 2 van die bou­werk in dié woonbuurt. Dit is die eerste keer dat skakelhuise en duplekseenhede deel uitmaak van so ’n projek in Oudtshoorn.

Die wooneenhede is met regeringsubsidies gebou en speel ’n groot rol om die ernstige behuisingsnood in Oudts­hoorn aan te spreek.

Rosevalley het ont­staan toe inwoners in 2010 informele huise op die stuk grond by die ingang van Oudtshoorn vanaf Dysseldorp en De Rust begin bou het. Hulle het die woonbuurt aanvanklik Riemvasmaak genoem. Die naam is na Rosevalley verander toe formele bouwerk daar in 2013 afgeskop het. Die eerste 299 wooneenhede is in 2015 oorhandig.

Bouwerk aan nog 332 wooneenhede (fase 3) sal dadelik afskop sodra fase 2 se wooneenhede oor­handig is.

Fase 3 sal na verwagting in Desember 2018 voltooi wees.
Dit sal die totale aantal huise in Rosevalley op 966 te staan bring.