Agter van links staan Simone Smit (onderwyser), kapt Bettie Wagenaar, kapt Paul Khumalo, kapt Peter Botha, Petronella Abrahams (prinsipaal), kapt Claudia Stalmeester en Jennifer Julies (onderwyser) saam met die leerders wat skoene ontvang het. Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE SAPD Akademie op Oudtshoorn het vandeesweek drie skole besoek as deel van ’n voortdurende uitreikprojek.
Hulle het Maandagoggend sanitêre doekies by die Hoërskool Môrestêr uitgedeel en blikkieskos by Bumble Bee Kleuterskool.
Dinsdag het 22 leerders van die Roodewal Primêr in Schoemanshoek skoene ontvang wat moontlik gemaak is deur skenkings van die publiek aan die SAPD Akademie.
Kapt Bettie Wagenaar en kapt Paul Khumalo het tydens hul besoek ’n positiewe boodskap aan die leerders oorgedra en hulle aangemoedig om hard te werk.
“Ek het self op ’n plaas skoolgegaan,” het Wagenaar gesê. “Julle moet altyd probeer om bo jul omstandighede uit te styg. Daar is soveel dinge in die lewe wat jy kan doen, solank jy net hard werk.”
Volgens Wagenaar sal nog so ’n projek binnekort van stapel gestuur word.