• Inwoners hou ’n tweede optog binne ’n maand

’n Memorandum word Dinsdag in Ladismith voorgelees tydens ’n protesoptog deur inwoners teen dwelmhandel. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS van Nissenville in Ladismith het vir die tweede keer Dinsdag ’n optog gehou teen dwelmhandel en dwelmhuise.
Die eerste optog is op Vrydag, 3 November, gehou.
’n Memorandum waarin beswaar gemaak word teen drankhandelaars en dwelmsmokkelaars is Dinsdag aan lt kol Jakobus Marthinus, bevelvoerder van die Ladismith Polisiekantoor, oorhandig en is ook aan landdros Marius Nel en die burgemeester, Magdalena Barry, voorgelees.
In die memorandum vra inwoners dat die eienaars van ’n beweerde dwelm- en drankhandel-huis in Nissenville kennis gegee moet word om binne een maand te verhuis, en dreig hulle met optrede indien dit nie gebeur nie.
Inwoners rig ook ’n versoek in die memorandum aan dwelmhandelaars en dranksmokkelaars om ter wille van die dorp se kinders te stop met die beskikbaarstelling van dwelms.
In die memorandum word ook gevra dat plakkerskampe spreiligte moet kry en dat vullis verwyder moet word.