Nuwe polisiekantoor vir Dysselsdorp: ‘Pragtige fasiliteit en pragtige mense’

Die nasionale minister van polisie, Nathi Nhleko, knip die lint tydens die amptelike opening van die nuwe polisiestasie op Dysselsdorp. Foto: Garnett Wicomb

Die nasionale minister van polisie, Nathi Nhleko, knip die lint tydens die amptelike opening van die nuwe polisiestasie op Dysselsdorp. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE hoofdoel van die polisie is vrede en stabiliteit in alle gemeenskappe, maar dit kan slegs bereik word met die samewerking van die gemeenskap.

So het die nasionale minister van polisie, Nathi Nhleko, Saterdagoggend gesê toe hy die nuwe polisiekantoor, wat teen ’n koste van meer as R44 miljoen opgerig is, amptelik geopen en aan die gemeenskap van Dysselsdorp oorhandig het.

“Baie geluk met ’n pragtige fasiliteit en pragtige mense,” het die minister aan die honderde inwo­ners gesê wat die groot wit markiestent al van vroeg­oggend volgepak het.
Nhleko het gesê solank as wat misdaad en kri­minele aktiwiteite in ons gemeenskappe ondervind word sal daar geen vryheid wees nie.

Hy het verwys na die laaste strofe van die land se volkslied wat lui “Let us live and strive for freedom in our land” en gesê dat dit iets moet wees waarvoor almal in die land moet werk.

Die nuwe polisiekantoor is volgens Nhleko deel van die staat se verbondenheid om ook die beste dienslewering na plattelandse gemeenskappe te bring.

Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om met die polisie saam te werk en eienaarskap van die fasiliteit te neem.

Volgens die nasionale waarnemende polisie­kommissaris, lt genl Khomotso Pha­hlane, is Dysselsdorp ’n klein ge­meenskap waar feitlik almal mekaar behoort te ken.

“Inwoners moet hul regmatige plek in die samelewing inneem om misdaad te help bekamp.
“Die polisie kan dit nie alleen doen nie,” het hy gesê en ’n beroep op die plaaslike polisie gedoen om aan elke klagte, hoe gering ook al, aandag te skenk.
“Geen klagte moet as vanselfsprekend aanvaar word nie.”

Minister Nhleko het by dieselfde geleentheid die sleutels van 20 nuwe voertuie aan die Suid-Kaapse Polisiehoof, lt genl Oswald Reddy oorhandig waarvan ’n paar op Dysselsdorp aangewend sal word.
“Ons wil nie die voertuie by sje­biens sien rondstaan nie,” het hy gemaan.

“Gemeenskappe moet die misbruik van polisievoertuie aanmeld omdat dit met hulle geld aangekoop is.
100 jong nuwe polisielede is ook aan die inwoners van Dysselsdorp voorgestel en deur die minister in die SAPD verwelkom.

Sy boodskap aan hulle was om ten alle tye gedissiplineerd en voorbeeldig op te tree.