
Dr Gawie en Dulcie Malherbe in hul jonger dae. Foto verskaf
“SY was ’n mooi mens – binne en buite.”
So het Pierre Malherbe, eienaar van Jemima’s op Oudtshoorn, vandeesweek sy ma, Dulcie, bestempel. Me Malherbe is Saterdag in die ouderdom van 83 jaar aan natuurlike oorsake in die Oudtshoorn Aftreeoord oorlede.
“So baie mense het my gekontak die week wat sy en my pa met goeie herinneringe en liefde onthou. Dit is ’n riem onder die hart,” het Pierre die week gesê.
Me Malherbe was ’n boorling van Volmoed net buite Oudtshoorn en was getroud met dr Gawie Malherbe wat 50 jaar as tandarts op Oudtshoorn gepraktiseer het. Hy is in 2005 oorlede.
Ds André Orfer wat me Malherbe baie goed geken het, sê sy was vir hom ’n voorbeeld van hoe ’n mens moet oud word. “Sy het nooit gekla nie en ’n lewe van dankbaarheid geleef. Sy het geweet hoe om mooi oud te raak. Sy was ook ’n diep geloofsmens.”
’n Gedenkdiens en viering van me Malherbe se lewe vind Vrydag om 10:00 in die NG Kerk Oudtshoorn-Wes plaas.
Sy word oorleef deur vier kinders – Ernest, Hennie, Pierre en Suzanne. Die Malherbes se vyfde kind, Don, is in 1984 in ’n motorongeluk op Oudtshoorn oorlede. (Berig deur Liesel le Roux)