MILLENIUMPARK AFTREEOORD in Noordstraat, Oudtshoorn spog nou met ’n splinternuwe dagkliniek! Die kliniek is nie net beskikbaar vir inwoners nie, maar bied dieselfde diens vir buite-pasiënte.
Die dagkliniek se dienste sluit die volgende in: die neem van bloeddruk, verwydering van steke, toediening van inspuitings, versorging van naels, voete en toonnaels, en nog vele meer.
“Die oord het reeds hierdie dienste aan hul inwoners gelewer, maar daar was nie ’n vertrek wat spesifiek daarvoor ingerig was nie,” sê Sharon van der Schyff, bestuurder van Milleniumpark.
Die nuwe vertrek is ook spesiaal ingerig vir dokters wat inwoners by die oord moet kom spreek.
Die kliniek is Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 14:00 oop. Inwoners of belangstellendes wat van die diens gebruik wil maak, kan die oord skakel om ’n afspraak te maak (tel 044 272 58670).
• Inwoners is tydens die opening in die vierkant langs die dagkliniek met heerlike eet- en drinkgoed bederf. Frik Geyser, voorsitter van Millenniumpark se bestuurskomitee, het in ’n toespraak aan die inwoners gesê dat die toekoms van die oord by hulle lê, en daarom is die dagkliniek vir hulle ingerig. Die vertrek was voorheen ’n stoorkamer.
“Daar is water aangelê, krag geïnstalleer en ook ’n lugversorger in die vertrek gesit om inwoners se gemak te verseker,” sê hy.
(Deur Angelique Erasmus)