Links: Die nasionale minister van verdediging en militêre veterane, Nosivive Mapisa-Nqakula, was Vrydag die spreker tydens die uitpasseringsparade van meer as 1 000 rekrute by die die Oudtshoorn Infanterieskool. Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
“DIE Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is die een instansie waar die moontlikheid van die dood altyd teenwoordig is. En die rede hiervoor is omdat die beroep van soldaatwees ’n beroep is van wapens.”
So het die nasionale minister van verdediging en militêre veterane, Nosivive Mapisa-Nqakula, Vrydagoggend op Oudtshoorn tydens die uitpasseringsparade van meer as ’n duisend rekrute gesê.
Sy het hulle geluk gewens met die suksesvolle voltooiing van die strawwe basiese opleiding van 18 weke by die Oudtshoorn Infanterieskool.
Mapisa-Nqakula het hulle ook sterkte toegewens met hul loopbane in die SANW.
Honderde familielede en vriende van regoor die land het die geleentheid by die Infanterieskool bygewoon.
Mapisa-Nqakula het beklemtoon dat dissipline, dapperheid, patriotisme en toewyding die belangrikste dinge is wat die weermag van soldate verwag.
“Dissipline en nogmaals dissipline is ononderhandelbaar,” het sy gesê en dit aan die rekrute voorgehou dat hulle nie na die voltooiing van hul opleiding minder gedissiplineerd kan wees nie.
“Jou toekoms is in jou eie hande en jy moet die geleenthede wat jou in die weermag aangebied word, met albei hande aangryp vir groter professionaliteit en ontwikkeling.”
Sy het gesê dié uitpassering is die rekrute se eerste stap op die pad om ’n ware soldaat te wees.
• Die Oudtshoorn Infanterieskool het Vrydag ook amptelik afskeid geneem van sy bevelvoerder vir die afgelope vier jaar, brig genl Nkhabu Ntejane, tydens ’n oorhandiging van bevel-seremonie aan kol Diamond Madie.