KLEUTERSKOLE in Nissenville in Ladismith het vroeë “krismiskleure” gekry toe die eens vaal skooltjies pragtig opgetooi is.
Dit is alles te danke aan die energieke manne van die motorklub Jap Metal, wat hulle beywer om ’n sosiaal-maatskaplike ommeswaai te bewerkstellig.
Hennesty Constable, woordvoerder van Jap Metal, vertel so oor die kleuterskool-inisiatief: “Ons het by Sea Harvest aangeklop vir befondsing. Sea Harvest het onlangs Ladismith Kaas oorgeneem en is betrokke by gemeenskapsprojekte.
“Ons klub van 19 lede het ook hand diep in die sak gesteek en self die arbeid verskaf. Twee kleuterskole, die Marius Fransman Dagsorgsentrum en Flinkies Dinkies, het ’n totale ‘make-over’ gekry.”
Elsbeth Arnolds, prinsipaal van die Marius Fransman Dagsorgsentrum, sê sy en haar personeel het na hierdie projek nou sommer nuwe ywer vir hul taak.
Hettie Flink van Flinkies Dinkies sê sy het net lof vir die inisiatief.
Constable sê hulle is verbind tot hierdie projek en gaan ook help om een keer per maand by die skole skoon te maak en skoonmaakprodukte te voorsien. (Deur Deon Meyer)