Hein Vermaak (9).
’n Ma van Kriel in Mpumalanga het Die Hoorn gevra om haar seuntjie wat aan Neuroblastoma Fase 4 – ’n aggressiewe en dodelike soort kanker – ly, se wenslysie met die lesers van Die Hoorn te deel.
Yolande Vermaak sê Hein (9) is in Januarie met dié kanker gediagnoseer. Hoewel hy aanvanklik chemoterapie ontvang het, het sy toestand nie verbeter nie en die kanker versprei. Verlede Maamdag het dokters besluit om behandeling te staak.
“Na Maandag se ontstellende nuus het Hein ’n lysie van goedjies gemaak wat hy nog graag sal wil doen,” vertel Yolande. Sy smeek die wêreld nou vir hulp omdat hulle nie finansieel in staat is om die wense van haar seun waar te maak nie. Volgens haar word alle fondse wat inbetaal word, tans gespaar om ’n “motor home” vir Hein te koop wat hulle beraam R100 000 sal kos.
Op Hein se lysie is ’n “motorhome” heel eerste. Onder sy ander wense is: om op verskeie plekke in Suid-Afrika te kamp en om in ’n hotel te bly met ’n warm swenbad, speletjies en kamerdiens.
Hein se ouers beoog om hom in Januarie 2018 Kaapstad toe te neem vir verdere mediese toetse. “Almal wat Hein ken, weet watse dapper klein seuntjie hy is. Help ons om die maande tot Januarie die moeite werd te maak om te onthou,” vra Yolande.
Vir Hein se wenslysie gaan na: https://www.facebook.com/groups/1791247584533895/permalink/1911725155819470/
Sy storie kan gevolg word en sy gesin gekontak word op die Facebook-bladsy Hein’s Journey.