Bestuurslede van die Kangovalleie Landbouvereniging (KLV), en inwoners van Tuishuis op Oudtshoorn by een van die muurverwarmers. Van links is Niene Saayman, Hennie-Edna Janse van Rensburg (KLV-voorsitter), Helen Boulle, Francois de Kock (KLV-bestuurslid) en Ansie Botes. Foto verskaf
DIE Kangovalleie Landbouvereniging is tans besig om seker te maak dat fondse wat hulle met die Kango Agri Expo 2018 ingesamel het, teruggeploeg word in die gemeenskap.
“Daar is reeds berig oor boere wat gereeld klippe aanry na Tuishuis, waar tannie Marie – ’n dinamiese inwoner – onverpoos werk om die tuin in ’n waterwys-lushof te omskep, maar ons het nou die welwillendheid van ons boere ’n stappie verder geneem deur twaalf muurverwarmers aan die ouetehuis te skenk,” sê Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die Landbouvereniging.
Volgens Janse van Rensburg is lede van die landbouvereniging egter ook “deel van ’n groter prentjie”.
“Die inwoners van Tuishuis herinner ons daar-aan dat ons sirkels ook voltooing gaan nader en daarom is dit vir ons ’n voorreg om ’n bietjie warmte vir hulle in die winter te kan bring.”
• Die landbouvereniging se 2019-fondsinsameling is ’n pret-gholfdag op 5 Oktober, waarvan ’n gedeelte in gemeenskapsinisiatiewe teruggeploeg word. Vir navrae oor deelname aan die gholfdag, kontak Kobus Theron by 079 619 0124.