Leerders van Prins Albert Primêr by agter van links Ruben Lakata (verteenwoordiger van die Direktoraat Padveiligheidsbestuur), Adam Buys (Veilige Skole, Onderwysdepartement), Kenny Africa (provinsiale verkeershoof), Petro Swanepoel (provinsiale verkeershoof Sentraal-Karoo), kapt D Klaasen (SAPD) en supt Mark February van Prins Albert Verkeer. Foto verskaf
’N JUNIOR Verkeersopleidingsentrum is op 20 April in Prins Albert geopen.
Junior Verkeersopleidingsentrums is ’n inisiatief van die Road Traffic Management Corporation, die agentskap wat landwyd vir padveiligheid verantwoordelik is.
Die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, Badisa (’n nie-regeringsorganisasie toegespits op die verbetering van benadeelde gemeenskappe), die SAPS, die Veilige Skole-program van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, die Gemeenskapspolisieforum van Prins Albert asook die Prins Albert Munisipaliteit en verkeersdienste was by die amptelike opening betrokke.
Die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, wat die amptelike opening van die sentrum waargeneem het, het gesê dat dit tyd is dat strenger teen oortreders van padreëls opgetree moet word.
“Skoolkinders se konsentrasie is kort en hulle aandag word gou afgelei as hul byvoorbeeld van die skool af huis toe stap,” het Africa gesê.
Volgens hom kan jong kinders nie spoed skat nie en sal hulle dikwels oor die straat hardloop, onbewus van hoe vinnig ’n voertuig ry.
“Kinders verstaan ook nie dat hulle nie sigbaar is as hulle in ’n bestuurder se blindekol is nie, en dit kan noodlottige gevolge hê.”