Inwoners spring ook in

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers het verlede jaar die “Ek help ook” inisiatief geloods, en mik om vennootskappe tussen die munisipaliteit privaatsektor en die gemeenskappe te versterk, en fokus op diensbaarheid, samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid.

Die Calitzdorp parkie, op die hoek van Park- en Voortrekkerweg, is een so ’n voorbeeld waar twee inwoners ingespring het en met die hulp van die munisipaliteit die inkom na die dorp onderhou en verfraai.

Oudtshoorniete sal opmerk dat daar pragtige lowergroen gras deesdae hier pronk. Die twee inwoners, wat gevra het om eerder anoniem te bly, het nuwe gras verlede week laat aanplant op plekke waar die gras net nie wou groei nie.

“Ons het gras gekoop by Seppie, van Dysselsdorp,” vertel die inwoner. Met Johan le Grange, ook bekend as Seppie, se aankoms het die gebaar om die ingang te verfraai sy hart aangeraak, en het hy uit sy eie sak, ekstra gras gegee sodat die gedeelte en kaal kolle gedek kon word. So maak elkeen ’n verskil op sy eie, en dra by tot die vooruitgang van die dorp.