Deur Ilze-Mari Gründling
WES-KAAPSE huishoudings kan vanaf 1 September 2017 registreer vir gratis digitale TV dekodeerders.
Kwalifiserende huishoudings in die Wes-Kaap sluit in Oudtshoorn (33 187), Ladismith (17 821), De Rust (9 562) en Prins Albert (13 902).
Volgens Martie Gilchrist, kommunikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, kan kwalifiserende huishoudings by hul plaaslike poskantoor registreer vir ’n gesubsidieerde digitale televisiedekodeerder.
Die dekodeerder sal benodig word wanneer die uitsaaier oorskakel van analoog na digitale televisieseine.
Huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van R3 200 per maand of minder kan vir ’n gesubsidieerde dekodeerder registreer. Die aansoeker moet ’n Suid-Afrikaanse burger wees en in besit van ’n werkende televisie.
Rian de Jager, kleinhandel-streekbestuurder van die poskantoor, sê daar is 193 poskantore in die Wes-Kaap en het mense aangeraai om so gou as moontlik aansoek te doen.
Plaaslike kontrakteurs sal deur die poskantoor aangestel word om die dekodeerder en antennas te installeer.
Huishoudings wat reeds ’n DSTV of TopTV-subskripsie het, sal nie ’n dekodeerder benodig nie.
So werk die aansoekproses:
1. Bring ’n Suid-Afrikaanse ID-dokument, bewys van fisiese adres, bewys van inkomste en ’n televisielisensie of beëdigde verklaring wat eienaarskap bevestig, saam na die poskantoor.
2. Die teller verwerk die aansoek en sal ’n erkenning van ontvangs aan die applikant gee. Die applikant sal hierdie bewys benodig wanneer die dekodeerder afgehaal moet word.
3. Die stelsel sal ’n SMS aan die applikant stuur sodra die dekodeerder by die poskantoor afgelewer is.
4. Wanneer die dekodeerder oorhandig word, sal die stelsel nog ’n SMS stuur aan die installeerder met die versoek om dit by die applikant se huis te installeer.
5. Sodra die applikant tevrede is met die installasie, moet ’n installeringsbewys geteken word. Die stelsel sal die ID-nommer en adres gebruik om seker te maak dat dieselfde huishouding nie twee keer aansoek doen vir ’n dekodeerder nie.
Gilchrist sê 17 pakhuise oor die land is gereed om dekodeerders te versprei.