Help dorp se diere so

Heerlike snoekbraai
OUDTSHOORNIETE kan op Saterdag, 4 Maart, saamsmul by ’n heerlike snoekbraai ten bate van die Oudtshoorn Volunteers vir Diere.

Lee-Ann van Sittert, wat op Oudtshoorn bekend staan as die dorp se “kat-vrou”, stel haar huis in Jan van Riebeeckweg 225B beskikbaar vir dié geleentheid. Dit vind vanaf 12:00 tot 14:00 plaas en ’n ete kos R50.
“Al die fondse wat ons insamel, sal gebruik word vir sterilisasieklinieke om minderbevoorregte eienaars van diere te help,” sê Van Sittert.

“Ons beplan ook ’n port-en-potjiekos-aand vir einde Mei en gaan probeer om elke twee tot drie maande iets te doen om geld in te samel vir sterilisasies. Daar word elke Woensdag ’n sterilisasie-kliniek aangebied.”

Vir meer inligting kan Van Sittert gekontak word by 083 334 0172 of Elmarie Swiegers by 082 498 0177

Wen ’n pragtige kwilt
’n Handgemaakte kwilt met sowat 140 prentlappies van diere as deel daarvan, wag op ’n eienaar – in ruil vir ’n skamele donasie van R20. ’n Groep diereliefhebbers van Oudts­hoorn wil met donasielyste – waarmee dié kwilt gewen kan word – geld insamel vir sterilisasies, kos en medikasie vir Oudtshoorn se diere in nood.

Die wenner se naam sal met ’n gelukkige trekking bepaal word.
Vir diegene wat dié erfstuk wil wen en so ’n bydrae lewer tot die dorp se diere, is ’n donasielys by Bottega (oorkant die Spur) beskikbaar. Die projek sluit op 9 Maart. Die wenner sal deur ’n gelukkige trekking op 15 Maart aangewys word.